Rekenmeester sal glo skuldig pleit

Ashley Fataar (47), ‘n rekenmeester van Wynberg in Kaapstad, wat glo duisende rande van die Joodse Gemeenskapsentrum (JCC) gesteel het, sal glo later vandeesmaand skuldig pleit op diefstal.

Fataar het Vrydag vir die eerste keer voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn. Hy sal weer op 27 Mei in die hof verskyn.
Hayley Lawrence, prokureur van Legal Aid, het aan die hof gesê sy het met Fataar vergader en hy sal tydens sy volgende verskyning skuldig pleit. Sy en aanklaer Denver Combrink sal die hof nader oor ‘n geskikte vonnis.

Volgens die klagstaat is drie organisasies by die saak betrokke, naamlik ‘n liefdadigheidsorganisasie die United Jewish Campaign (UJC), die JCC, en die Bnoth Zion Association (BZA). Die BZA borg glo die UJC se maandelikse huur, wat elke maand aan Fataar, as die JCC se rekenmeester, oorbetaal is. Dit was Fataar se plig om maandeliks die geld in die JCC se bankrekening in te betaal.

Die UJC het Fataar glo in April verlede jaar gevra wat met die maandelikse huur gebeur het. Fataar het gesê hy het nog nie die geld deponeer nie, en dit was in die kluis in sy kantoor. Toe die kluis oopgemaak is, was daar nie geld in nie. Fataar het toe gesê dit is in sy lessenaarlaai, maar dit was ook nie daarin nie.

‘n Ondersoek het bevind dat huurgeld ter waarde van R144 000 tussen Februarie 2009 en April 2012 nog nie inbetaal is nie.

Luidens die klagstaat is die UJC ‘n nie-winsgedrewe organisasie wat fondse insamel vir liefdadigheidsorganisasies vir die Joodse gemeenskap in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.