Rekordgetalle vir beroepswedders oor koninklike baba

Die hertog en hertogin van Cambridge

Na verwagting sal Prins William en Catherine Middleton, die hertog en hertogin van Cambridge, se baba binnekort sy (of haar) opwagting maak.

Die wêreld is in Desember oor die swangerskap ingelig toe Middleton in ʼn hospitaal opgeneem is met erge oggendnaarheid.

Die bevalling sal na verwagting by die St Mary’s-hospitaal in Londen plaasvind.

Beroepswedders sê weddenskappe op die naam, geslag en datum van die baba behaal rekordgetalle van meer as £1 miljoen (meer as R15 miljoen) vir ʼn nie-sportverwante gebeurtenis.

Koningin Elizabeth II, die res van die koninklike gesin, die Middleton-gesin, Britse Eerste Minister David Cameron en die goewerneurs-generaal van elk van die Statebond-lande sal eerste oor die geboorte ingelig word. Die aankondiging sal as ʼn formele bulletin, wat deur mediese personeel onderteken is, in ʼn motor met polisiebegeleiding na Buckingham-paleis vervoer word.

Hierna sal die kennisgewing op ʼn skildersesel in die paleis se voorhof geplaas word. Dit sal die eerste geleentheid vir die publiek wees om uit te vind of dit ʼn seuntjie of ʼn dogtertjie is.

Persverklarings sal hierna uitgereik word en na verwagting sal die nuus die vinnigste oor Twitter versprei.

Volgens beroepswedders is “Alexandra” een van die name wat die meeste voorgestel word vir die baba.

Indien die hertog en hertogin ʼn dogtertjie kry kan sy eendag, ná prins Charles en prins William die koningin word. Tot en met 2011 sou ʼn dogter nie dié voorreg geniet het nie. Reëls oor die troonopvolging het egter intussen verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.