Rekrute: Minister gryp in

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het verdere ondersoeke gelas na bewerings van aanranding by die Infanterieskool by Oudtshoorn.

Sonwabo Mbananga, woordvoerder van die departement, sê Mapisa-Nqakula is bekommerd oor die nuutste voorval aangesien sy reeds twee ander ondersoeke na vorige voorvalle by die Infanterieskool gelas het. Die oorspronklike ondersoek is in Oktober verlede jaar gelas na ʼn vroulike rekruut selfmoord gepleeg het by die Infanterieskool. “Toe die verslag rakende die ondersoek ontvang is, is daar gevind dat dit onvoldoende is en die minister het ʼn tweede ondersoek gelas deur die inspekteur-generaal en versoek dat die ondersoek uitgebrei word na enige voorvalle van sterftes.” Mbananga sê die minister het op 6 Mei die verslag rakende dié ondersoek gekry. Die verslag wys op ʼn gebrek aan die nakoming van veiligheidsmaatreëls. Die minister het voorts die weermag en sy hoof versoek om ʼn voorlopige ondersoek te doen na die punte wat in die verslag genoem word. Mapisa-Nqakula het ook die millitêre ombudsman versoek om ondersoek in te stel na klagtes van lede by die Infanterieskool sowel as die opleiding- en lewensomstandighede by Oudtshoorn.

Mapisa-Nqakula se aankondiging kom nadat die weermag Dinsdag aangekondig het dat hy ʼn raad gestig het om ondersoek in te stel na ʼn beweerde straf-opleidingsessie by die Infanterieskool nadat talle rekrute glo mediese behandeling nodig gehad het na die opleidingsessie. Volgens Beeld het die opleidingsessie Donderdagaand en Vrydagoggend plaasgevind en is dit stopgesit na mediese beamptes glo gevrees het dat die rekrute dit nie sal oorleef nie. Volgens Pikkie Greeff, woordvoerder van die vakbond Sanwu, moes die rekrute kaal uittrek en pale ronddra. Hy sê indien hulle die pale laat val het hulle met besemstokke geslaan is. Volgens Greeff is een van die rekrute so erg aangerand dat hy steeds in die hoësorgeenheid van die Oudtshoorn Mediclinic behandel word. Mabanga sê hy is nie bewus hiervan nie. In Augustus verlede jaar het ʼn vroulike rekruut selfmoord gepleeg by die basis. Sanwu het destyds beweer dat ʼn selfmoordbrief agter gelaat is en dat daar hierin bewerings gemaak is dat rekrute verneder word by die basis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.