Bewerings dat rekrute van die Infanterieskool op Oudtshoorn aangerand word, het in ʼn brief gerig aan die die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu) aan die lig gekom.
ʼn Vrouesoldaat se ma het die brief geskryf en kla onder meer dat rekrute met sigaretaanstekers gebrand word en dat manlike instrukteurs vrouesoldate geskop het, berig Beeld.
Sanwu het verlede Dinsdag beweer dat vroue by die infanterieskool verneder is omdat hulle swanger geraak het. Die unie het gesê hulle ondersoek hoe rekrute daar behandel word.
Adv. Pikkie Greeff, ʼn woordvoerder van Sanwu, het Vrydag gesê die unie het geen terugvoer van die weermag oor die bewerings in die brief gekry nie.
Brigadier-generaal Xolani Mabanga, ʼn woordvoerder van die weermag, het Sondag gesê hy is onbewus van die brief.
– Sapa