Remissie ná histerektomie, kankerstryd: Jonge Elske straal

Elske de Villiers

Elske de Villiers aan die begin van 2023 toe sy uitgevind het sy ly aan ovariale kanker. (Foto: Elske de Villiers Prayer Group/Facebook)

Sy het hierdie jaar begin met die verpletterende wete dat sy weens kanker nooit ʼn kind van haar eie sal hê nie. Maar nou, kort voor Kersfees, was daar goeie nuus vir die 18-jarige Elske de Villiers: Haar kanker is vir die eerste keer in remissie.

“Sy begin weer haar ou self word,” het Elske se ma, Lizelle, vandeesweek vertel.

En sy vertel ook hoorbaar trots hoe haar oudste dogter bo al haar uitdagings die afgelope jaar uitgestyg het.

Maroela Media het vroeër berig oor Elske wat op 17 ʼn volle histerektomie moes ondergaan het. Hierna het ʼn kankerdiagnose haar uithouvermoë selfs verder getoets.

Die eerste keer wat Elske agtergekom het daar is fout, was in Januarie vanjaar. Sy was by die skool vir atletiekoefening toe sy van die skoolpaviljoen gegly en geval het. Hierna het sy eenvoudig nie gesond geword nie en haar maag het begin swel.

Ná baie toetse is ovariale kanker by Elske gediagnoseer. Dit het tot gevolg gehad dat vog in haar buik opbou en haar maag geswel het. Elske se dokters het aanbeveel dat sy so gou moontlik ʼn volle histerektomie ondergaan en in Maart is albei haar eierstokke en haar baarmoeder verwyder.

Elske de Villiers

Elske de Villiers, saam met haar ma, Lizelle vroeër in die jaar toe Elske haar hare moes afsny in voorbereiding vir haar chemosessies. (Foto: Elske de Villiers Prayer Group/Facebook).

Daar was ook ʼn kankergewas op haar lewer, maar dit is aanvanklik nie verwyder nie uit vrees dat bloeding komplikasies kon veroorsaak. Hierna moes Elske vier strawwe kursusse chemoterapie begin.

Alles het goed verloop – tot die derde sessie … Die jong meisie se lyf het begin swaar kry en sy het die Covid-19-virus opgedoen. Die komplikasies het beteken Elske was kort-kort in die hospitaal en haar dokters het aanbeveel dat sy eers haar skoolwerk opskort. Dit het Elske se hart gebreek, want sy was aan die begin van die jaar vasberade dat haar kanker nie haar matriekeksamen in die wiele gaan ry nie.

En toe kom nog ʼn terugslag.

Met die laaste skandering, om vas te stel hoe suksesvol Elske se chemoterapie was, is nog kankergewasse aan haar lewer en milt ontdek.

Dit het in September omvattende chirurgie geverg en Lizelle sê Elske se galblaas, dunderm en die helfte van haar lewer moes verwyder word.

Elske de Villiers

Van links na regs is Elske se kleinsus, Sue-Zelle, haar tannie Alicia met haar jongste, Jo-anri, op haar skoot, Elske se niggie Alicekia, Elske en haar ouma Elsa. (Foto: Elske de Villiers Prayer Group/Facebook).

“Dit was baie pynlik, maar ons is so bly dit was ʼn sukses,” sê sy.

Stralend by matriekafskeid

Elske het Dinsdag vir ʼn opvolgskandering gegaan en al die kankergewasse is nou weg: Sy is amptelik in remissie.

Lizelle sê Elske se skool, die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, Gauteng, het boonop ʼn spesiale vergunning aan haar gemaak om steeds haar matriekafskeid by te woon.

Elske de Villiers

Elske by haar matriekafskeid vanjaar. (Foto: Elske de Villiers Prayer Group/Facebook)

“Sy het só mooi gelyk,” sê Lizelle.

Elske het met ʼn helikopter aangekom en het gestraal in ʼn appelkoos-en-silwerkleurige skepping.

“Almal het Elske so bederf, ons kan nie genoeg dankie sê nie,” sê Lizelle.

Buiten Elske se matriekafskeid is haar mediese koste gedelg deur die ouers van haar skool se hokkiespan.

Elske de Villiers

Elske in September toe sy omvattende chirurgie moes ondergaan om ’n gedeelte van haar lewer asook haar blindederm en galblaas moes verwyder. (Foto: Elske de Villiers Prayer Group/Facebook).

Hulle het onder meer kolwyntjies en armbande verkoop en talle fondsinsamelingsprojekte van stapel gestuur om te verseker dat Elske die nodige behandeling ontvang.

“As dit nie vir hulle was nie, weet ek nie,” sê Lizelle.

En Elske? Vir nou tel sy die dae af tot sy kort voor Kersfees na KwaZulu-Natal vertrek om saam met haar grootouers en boetie by die see vakansie te hou.

“Sy verdien dit,” sê Lizelle.

Hierdie berig is aangepas sedert dit gepubliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Euodia ·

So bly saam met haar ouers ..wonderlike nuus en wat ‘n voorreg om in ‘n skool te wees waar hulle so saamstaan vir haar.

Estelle ·

Jy is n wenner, Elske! Ek wens jou die lekkerste seevakansie toe hierdie jaar – jy verdien dit!

OU SAAR ·

En my trane sit nou baie vlak. Dis as ek sulke tipe berigte lees dat ek altyd vra HOEKOM?
Sy is so jonk, haar lewe lê voor haar. Voel so onregverdig.
Maar dan besef ek die Here het ń doel met alles. Hy sal nooit iets oor iemand se pad bring as hy/sy dit nie kan hanteer nie.
Elske, baie baie sterkte vir jou pad vorentoe. Ek bid vir jou net die beste en blinkste toekoms voor.
Aan Elske se familie, sterkte ook vir julle. Troos julle in die wete dat God Sy Hand van beskerming oor julle almal hou.

Bolandse Nooi ·

Sterkte, meisiekind. Ag, ek hoop maar dit kom nie terug nie. Leer dit nou van dié ou tannie: LEEF jou lewe voluit, vir solank jy kan. Doen wat jy moet doen om (hopelik) gesond te blý.

Althes ·

Sy is ñ pragtige mens. Sterkte met jou pad vorentoe. Als sal uitwerk soos dit moet.

Antoinette ·

Ek wil net weer beklemtoon!!!!!!!!!!!!!!
Gaan doen jou eie navorsing oor appelkoospitte. Dit bestry kankerselle en ja dit het arseen in maar dit is nie die dodelike arseen nie. Dit vernietig net die kankersel. Ons
God het dit vir ons in die natuur gegee om te gebruik. Nou dat jy weet dat die wêreld gesondheidsraad mense wil DOODMAAK, moet jy des te meer jou ORE oopmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.