Renate Barnard-regstelsaak in hoogste hof van appèl aangehoor

Renate Barnard

Renate Barnard

Solidariteit se regstellendeaksiesaak wat hy namens kapt. Renate Barnard teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) voer, gaan Woensdag voort in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein. Barnard, wat oor 24 jaar diens in die SAPD beskik, se regstellendeaksiestryd het reeds agt jaar gelede begin. Solidariteit sal Woensdagoggend voor die aanvang van die saak ʼn mediakonferensie hou waar kapt. Barnard haar storie sal vertel en lede van die media toegelig sal word oor die saak.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê die Barnard-saak is ʼn toetssaak wat gaan bepaal wat wit Suid-Afrikaners se reg op waardigheid en gelykheid in regstellendeaksieprosesse is. “Die saak gaan ook die balans tussen dienslewering en regstellende aksie bepaal. Indien die saak in Solidariteit se guns beslis word, kan dit ingrypende gevolge hê aangesien nog agt diskriminasiesake teen die SAPD op die beslissing van dié saak wag. Regter Hilary Rabkin-Naicker het onlangs in haar uitspraak in Solidariteit se saak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) beslis dat sy nie regshulp aan die wit applikant kan gee nie aangesien sy saak aan die Barnard-saak gebonde is. Die Barnard-uitspraak gaan dus bepalend wees in hoe die howe wit Suid-Afrikaners in regstellendeaksiesake gaan hanteer.”

Die arbeidsappèlhof het in November verlede jaar in die SAPD se guns in hierdie omstrede saak bevind. In die uitspraak is bevind dat dit nie in die hof se bevoegdheid is om te bepaal of die nasionale kommissaris ʼn pos moet vul en of besluite van die kommissaris dienslewering gaan benadeel nie. Dit het gevolg nadat die arbeidshof in Johannesburg in Februarie 2010 beslis het dat kapt. Barnard in die SAPD bevorder moet word en dat daar teen haar gediskrimineer is op grond van haar velkleur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hein ·

Ek lees nou die dag nogal ‘n baie raak beskrywing van wat deesdae hier aan die gang is: ons is beskryf as ‘n “ineptocracy”: waar die regering van die dag, wat die minste toegerus is om doeltreffend te bestuur, ingestem word deur die gedeelte van die samelewing wat die minste bydrae tot effektiewe groei, terwyl daardie deel van die samelewing onderhou word deur die mense wat aktief in die ekonmie betrokke is, terwyl regstellende aksie toegepas word deur ‘n meerderheid met al die politieke mag op ‘n 5% minderheid met geen politieke mag nie, en dan nog steeds ‘n gemors van so baie maak a.g.v. korrupsie en nepotisme en net ‘n handjie vol buite proporsie verryk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.