Alex Richter, die eienaar van ‘n reservaat waar Chantal Beyer Saterdag deur ‘n renoster aangeval is, word glo vir die voorval blameer.
Beyer (24), ʼn student van die Wes-Rand, is glo deur Richter aangesê om nader aan die dier te staan om vir foto’s te poseer. Beyer is oomblikke daarna deur die renoster se horing in die bors gesteek en ernstig beseer, berig Beeld. Sy is steeds in die intensiewesorgeenheid van ʼn hospitaal in Krugersdorp.
Beyer het glo aan haar oom, Thom Peeters, gesê Richter het kort voor die aanval foto’s van haar geneem en vir haar gesê sy moet “bietjie nader staan”.
Die horing het Beyer se bors regs van agter binnegedring, ribbes gebreek en veroorsaak dat haar long platval. Sy was op ʼn wildsrit saam nege ander mense by die Aloe Ridge hotel en wildsreservaat in Muldersdrift toe Richter naby twee renosters stil gehou het.
Hy het vermoedelik mieliepap gebruik om die diere nader te lok, waarna hy vir die gaste gesê het hulle kan uit die voertuig klim om foto’s te neem want dit was “veilig”.
Richter het geweier om kommentaar te lewer.
– Sapa