‘Renosterhoring’ nie ware jakob

Die foto is deur die gebruiker @barrybateman op Twitter gelaai.

ʼn ‘Renosterhoring’ wat Donderdagoggend in vier mense se besit gevind is nadat hulle in ʼn motorongeluk betrokke was in Bedfordview, is nie die ware jakob nie.

“Dit is uit ʼn boom gesny en ons ondervra tans die verdagtes om uit te vind wat hulle eintlik besig was om te doen,” sê ʼn woordvoerder van die Valke, McIntosh Polela. “Een van die verdagtes het ʼn SANParke-uniform gedra, so ons is tans in kontak met hulle om vas te stel of hy wel ʼn werknemer van hulle is.” Die polisie het die verdagtes Donderdagoggend op die N3 in hegtenis geneem nadat hulle motor teen ʼn ander motor gebots het. Die bestuurder van die ander motor het gesien hoe die verdagtes ʼn koelsak onder ʼn nabygeleë boom probeer wegsteek. Die polisie het die ‘renosterhoring’ in die koelsak gevind. Intussen het vier SANParke-beamptes Donderdag in die Witrivier landdroshof in Mpumalanga verskyn vir renosterstroping en regsverydeling. Die saak teen hulle is tot 8 Maart uitgestel wanneer hulle om borg sal aansoek doen. Hulle is Dinsdag in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem kort nadat daar op die karkasse van twee witrenosters afgekom is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.