Renosterhorings met ‘gif’ ingespuit om stropery te voorkom

Foto: www.rhinoconservation.org

ʼn Eienaar van ‘n wildreservaat in die Wes-Kaap het sy renosters se horings met gif ingespuit in ‘n poging om stropery te voorkom.

“Ons hoop dat dit stropers sal inlig, dit [stropery by die reservaat] gaan ‘n vermorsing van tyd wees,” het die eienaar van die Inverdoorn-reservaat, Damian Vergnaud, Vrydag gesê. Vergnaud sê hy het wetenskaplikes en sy veearts genader om hom te help om ‘n nuwe manier te vind om sy renosters te beskerm. “Dit is baie pynlik vir renosters as hulle horings verwyder word. Dis trauma vir die diere en dit laat hulle anders lyk. Ek wou ʼn ander manier vind om hulle te beskerm.”

Vergnaud sê drie renosters, twee koeie en ʼn kalf, het Donderdag ʼn operasie op die reservaat ondergaan waartydens drie verskillende stowwe in hulle horings ingespuit is. Die eerste stof is ‘n kleurstof – dieselfde produk wat gebruik word om transitorooftogte te fnuik deur banknote met ʼn pers kleur te merk as die boks waarin dit gehou word oopgedwing word. Vergnaud sê die kleurstof verskyn in die binnekant van die horing en maak dit nutteloos vir dekoratiewe doeleindes. ʼn Mes wat se handvatsel van renosterhoring gemaak word genaamd ‘Jambiya’ is ʼn gewilde aandenking in Jemen. Die tweede stof wat ingespuit word het ten doel om die horing sigbaar te maak op ‘n X-straal-skandeerder en dus te verseker dat stropers nie renosterhorings landuit kan smokkel nie. Die derde stof is barium en word deur die Suid-Afrikaanse wapenvervaardiger Denel vervaardig. Dit het ʼn slegte smaak en sal iemand wat dit inneem matig siek maak. “Dit smaak baie sleg as jy dit in jou mond sit. Jy kan dit nie sluk nie, dit is net te walglik. Selfs as iemand mal genoeg is om dit te sluk sal dit net diarree en naarheid veroorsaak. Dit is skadeloos en niemand kan sterf as gevolg van dit nie,” sê Vergnaud. Hy sê die renoster ervaar ook geen newe-effekte as gevolg van die stowwe in hulle horings nie. Vergnaud sê hy deel graag sy ‘oplossing’ met ander mense wat probeer om renosters te beskerm. Hy sê hy is reeds genader om te help om stropery in Botswana te probeer voorkom. Vergnaud sê aangesien renosters se horings bly groei sal die proses elke drie tot vier jaar herhaal moet word.

Meer as 400 renosters is vanjaar in Suid-Afrika vir hulle horings doodgemaak in vergelyking met die 333 renosters wat verlede jaar doodgemaak is. Vier stropers is verlede week in Hoedspruit in Limpopo in hegtenis geneem nadat twee renosterhorings, twee vuurwapens en ʼn byl in hulle besit gevind is. ʼn Renosterkarkas is kort na hulle inhegtenisneming in die gebied ontdek. ʼn Chinese burger, Hsu Hsien Long, is verlede week in Germiston tot ses jaar tronkstraf gevonnis vir die besit van twee renosterhorings sonder’ n permit. Volgens die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) is drie van die vyf renosterspesies in die wêreld reeds krities bedreig. Die WWF het vroeër vanjaar bekendgemaak dat ’n hoogs bedreigde renosterspesie in Viëtnam uitgewis is weens stroping. Renosterhorings is skynbaar hoogs gesog in Asië vir medisinale doeleindes. Volgens Save the Rhino is daar vandag minder as 24 500 renosters in die natuur, met die oorgrote meerderheid wat in Suid-Afrika aangetref word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.