Twee gekonfiskeerde renosterhorings het uit die Assen-polisiestasie, buite Brits, weggeraak.
Beeld berig die horings is sedert November by die stasie aangehou nadat dit gekonfiskeer is van stropers wat agt renosters by die Klipkopspruit-reservaat naby Sun City, in Noordwes, onthoring het.
Miles Lappeman, Klipkopspruit se eienaar, het aan die koerant gesê hy het Vrydag uitgevind dat die horings weggeraak het. Dit volg nadat hy twee weke gelede ʼn brief van die departement van omgewingssake ontvang het waarin hy versoek is om die horings by die polisiestasie te gaan afhaal.
Kapt. Paul Ramaloko, ʼn die woordvoerder van die Valke, het gesê ʼn dossier van diefstal is oopgemaak.
“Dit is nie bekend hoe die horings weggeraak het nie, want daar was geen inbrake by die stasie nie,” het Ramaloko gesê. Hy sê slegs polisiebeamptes met die nodige sleutels het toegang tot die stoorkamer gehad.
– Sapa