Renosterkalfie vermis ná ma gestroop is

ʼn Renosterkalfie word in Limpopo vermis sedert sy ma sowat ʼn week gelede vir haar horings gestroop is.

Kol. Ronel Otto, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die koei se karkas is Maandag op die Leshoka Thabang-wildsplaas in die Zebediela-gebied gevind. “Dit wil voorkom of die dier vroeg verlede week geskiet is,” het Otto gesê. “Die koei is met ʼn swaarkaliberwapen doodgeskiet en al twee haar horings is verwyder,” het Otto gesê.

Paul Trollop, bestuurder van die wildsplaas, sê die koei het ʼn kalfie gehad en die kalfie word vermis. “Ons het tans ʼn span mense wat onverpoosd na die kalfie soek. Ons hoop vir die beste,” het Trollop aan Maroela Media gesê. Hy sê voorts ʼn mens voel baie bitter as ʼn mens op so ʼn toneel afkom. “Sulke goed moet nie eens gebeur nie,” het hy gesê.

Volgens Otto is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en duur die ondersoek voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.