‘Renosterstroper’ in Limpopo doodgeskiet

Argieffoto

ʼn Vermeende renosterstroper is oor die naweek in Limpopo doodgeskiet en nog een is in hegtenis geneem.

Kol. Ronel Otto, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die verdagtes is op ʼn wildsplaas in die Cumberland-omgewing betrap. “ʼn Werker wat gewoonlik voer vir die renosters uitsit, het vreemde spore op die wildsplaas waargeneem,” het Otto gesê. “Boere van die omgewing, spoorsnyers en polisiebeamptes het bymekaargekom en die spore gevolg. Die spore is vir 24 uur lank gevolg en twee privaathelikopters is ook gebruik om te help in die soektog.”

Volgens Otto is een verdagte gevind waar hy onder ʼn boom probeer wegkruip het. Hy het op een van die helikopters probeer skiet, en het ook in die rigting van die soekspan op die grond geskiet. Die man, wat van Mosambiek afkomstig is, is geskiet en op die toneel dood verklaar. ʼn Man van Zimbabwe is later op die plaas in hegtenis geneem.

Die polisie het beslag gelê op ʼn jaggeweer, ammunisie en ʼn byl. Die Zimbabwiër moet binnekort in die Thabazimbi-landdroshof verskyn op aanklagte van renosterstropery en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nadia Maritz ·

Goed so. Mag dit vir voornemende poachers ‘n waarskuwing wees. LOS ONS RENOSTERS UIT!!!!!!

Marie ·

Mooi so! Moenie vat wat nie joune is nie!!!!! Mens ken mos die verskil tussen reg en verkeerd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.