“Renosterstropers” dalk vry oor tolk

Twee mans, onderskeidelik van Sjina en Viëtnam, wat van renosterstropery beskuldig word, kan moontlik Vrydag as vry mans uit die Kemptonparkse landdroshof uitstap indien die tolk nie opdaag nie, het Beeld berig.

Distrikslanddros Eric Mhlari het die saak Donderdag tot Vrydag uitgestel en gewaarsku dat die saak van die rol geskrap kan word indien ʼn tolk nie opdaag nie. Qifen Chen van Viëtnam en Jiqua Han van Sjina het op 21 Februarie vir die eerste keer in die hof verskyn. Chen is daarna vir ʼn enkelbesering in die hospitaal opgeneem en die saak is tot 29 Februarie uitgestel, aangesien hy nie in staat was om die hofsaak by te woon nie. Melody Lin, tolk, was nie vir enige van die twee datums beskikbaar nie en die saak is tot 7 Maart uitgestel, maar Lin het steeds nie opgedaag nie. Sy het glo ʼn boodskap aan die landdros gestuur om hom in kennis te stel dat sy Sjinees kon tolk, maar nie Viëtnamees nie. Intussen het Chen die hof ingelig dat hy wel vlot Sjinees kan praat, en die saak is gevolglik tot 15 Maart uitgestel. Lin het egter weereens Donderdag nie opgedaag nie, nadat sy die hof glo in kennis gestel het dat sy ʼn maagaandoening het. Sy het aan die hof bevestig dat sy die saak Vrydag kan bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.