Renosterstropery in hande van georganiseerde misdaad

Foto: www.rhinoconservation.org

Die groot omvang van renosterstropery in Suid-Arika is nou in die hande van georganiseerde misdaadsindikate wat ook met dwelms, diamante en mense smokkel. Traffic, ‘n internasionale organisasie wat onder meer smokkel in wilde diere monitor, het dít Dinsdag in ‘n verslag bekend gemaak.

Volgens die verslag wat aan die WWF oorhandig is, slaag die polisie daarin om meer smokkelaars, soos Viëtnamese en Chinese bendes aan te keer, maar slaag nie daarin om die rekordstropery te stuit nie, omdat die bendes die polisie “gewoonlik een stappie voor is”.

Dié verslag word reeds wyd in die buitelandse media gedra, en is Maandag in Suid-Afrika onder die titel, The South Africa-Vietnam Rhino Horn Trade Nexus Report, bekend gestel.

Die verslag meld dat korrupte mense in die bewaringsbedryf die stropers van binne-inligting voorsien. Terwyl baie renosters met AK 47’s geskiet word, word al hoe meer gebruik gemaak van wapens wat tipies deur die bewaringskundiges gebruik word.

Renosterhoring, wat uit presies dieselfde stof as die menslike nael bestaan, haal in die Ooste tot byna ‘n halfmiljoen rand per kilogram.

In 2007 is 13 renosters gestroop, verlede jaar was dit 448 en in die eerste helfte van vanjaar 218.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.