Renosterstropery: Minister oorweeg handelsooreenkoms

Die departement van omgewingsake oorweeg verskeie opsies nadat onlangse statistiek getoon het dat daar reeds 199 renoster hierdie jaar gestroop is. Foto: publicdomainpictures.net

Daar is sedert die begin van die jaar reeds ongeveer 199 renosters geskiet en volgens statistiek van die departement van omgewingsake is dit steeds die Kruger nasionalepark wat die meeste onder stropery deurloop.

Dit is data soos die wat die minister van dié departement nou ʼn handelsooreenkoms met lande soos Sjina en Vietnam oorweeg.

Minister Edna Molewa het Woensdag in haar departement se begrotingsrede die voorstel gemaak. Dit kom tien maande voor die 16e kongres op die Internasionale Handel van Bedreigde Spesies (Cites) wat in Bangkok, Thailand sal plaasvind. TimesLive het berig dat Suid-Afrika ʼn renosterhoring voorraad van twintig ton het en die prys van die horings kan tot R500 000 haal indien die kongres die verbod op die handel daarvan sou lig.

Molewa wou egter nie uitbrei oor hoeveel renosterhorings in die besit is van parke en reservate, wat deur die regering bestuur word nie.

Sy het egter gesê dat Suid-Afrika nie die kongres sal vra dat die verbod op die handel in renosterhorings gelig moet word nie maar is besig om alle moontlikhede te ondersoek. In die tussentyd is daar nog baie navorsing wat gedoen moet word. Molewa het gesê haar departement sal eers wil seker maak wie hulle vennote aan die ‘anderkant’ sal wees, voor hulle so ʼn besluit sal neem.

Tot dusver is daar 122 arrestasies gemaak, waarvan 104 renosterstropers is, tien was mense wat horings vervoer het en twee was kopers. Suid-Afrikaners kan renosterstropery by 0800-205-005 aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.