Renosterstropery styg steeds skerp

Foto: www.rhinoconservation.org

Die departement van omgewingsake het bekendgemaak dat minstens 15 renosters die afgelope tien dae vir hul horings doodgemaak is.

ʼn Woordvoerder van die departement, Albi Modise, sê 150 renosters is reeds vanjaar vir hul horings doodgemaak. Volgens die departement het dié getal op 19 Maart op 135 gestaan. Modise sê 87 renosters is reeds vanjaar in die Krugerwildtuin gestroop. Dié getal het verlede week op 75 gestaan. Modise sê die regering gaan voort om die onwettige doodmaak van renosters te prioritiseer. Die departement het in Januarie aangekondig dat hy nie langer jagpermitte sal uitreik aan jagters van lande waar daar nie die nodige wetgewing is om te monitor of die trofee gebruik word vir die doel soos op die permit aangedui nie. Die minister van omgewingsake, Edna Molewa, het intussen met Mosambiek se minister van toerisme, Fernando Sumbana, ontmoet ten einde lewensvatbare oplossings te vind vir die toename van renosterstropery in die Krugerwildtuin. Intussen is ʼn nuwe elite en hoogs opgeleide Nasionale teenstropingseenheid gevorm, wat binnekort ontplooi sal word in areas waar stropery die meeste voorkom. Daar sal ook ʼn verdere 150 wildbewaarders in die Krugerwildtuin ontplooi word. Modise sê 75 rekrute ontvang tans opleiding van die weermag in die wildtuin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.