Reservaat betwis onwettige besit van renosterhorings

Foto: www.rhinoconservation.org

Die Entabeni Safari Conservancy in Limpopo het Vrydag ‘n polisieverklaring betwis dat die reservaat se bestuurder, Jan Lessing, in hegtenis geneem is vir die onwettige besit van renosterhorings en olifanttande.

Lessing (54) het Donderdag in die Naboomspruit landdroshof verskyn en is op borgtog van R3 000 vrygelaat. News24 berig dat ʼn verteenwoordiger van die reservaat, Pete Richardson, gesê het dat Lessing “sy lewe toegewy het aan bewaring” en dat hy onseker is hoe die polisie tot die gevolgtrekking gekom het dat die renosterhorings en olifanttande onwettig in hulle besit was. Richardson sê Lessing se inhegtenisneming het moontlik daarmee te doen dat hy nie al die nodige papierwerk ingevul het nie. Hy sê die renosterhorings en olifanttande wat in Lessing se besit gevind is, is van diere wat vroeër op die reservaat dood is. Richardson sê daar is nadoodse ondersoeke op die diere gedoen en gesertifiseerde verslae is ingedien en die horings in die reservaat se kluis gebêre vir veiligheid. Dit is onwettig om renosterhorings te begrawe of te verkoop. Die polisie het vroeër in ʼn verklaring gesê Lessing word aangekla van die beweerde besit van renosterhorings, olifanttande en onwettige vuurwapens.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.