Reservaatbestuurder stroop glo renosters, pleeg selfmoord

Die polisie het bevestig dat ʼn 40-jarige bestuurder van ʼn natuurreservaat in Limpopo, wat glo by renosterstropery betrokke was, selfmoord gepleeg het.

ʼn Polisiewoordvoerder, kol. Vishnu Naidoo, sê Walter Nkuna se liggaam is Maandagmiddag in sy huis op die Atherstone natuurreservaat, in Dwaalboom naby Thabazimbi, gevind. Hy sê die polisie was besig om leidrade op te volg rakende ʼn renoster wat Vrydag in die reservaat vir sy horing gestroop is. Nkuna se vuurwapen is langs sy liggaam gevind. Naidoo sê hulle vermoed Nkuna het selfmoord gepleeg toe die polisie op pad was om hom in hegtenis te neem. Volgens berigte het die Nkuna hom in sy huis toegesluit en selfmoord gepleeg toe die polisie daar opgedaag het. Naidoo sê die polisie vermoed geen vuilspel nie en ondersoek die saak. Nkuna is volgens berigte ‘n werknemer van die departement van ongewingsake in Limpopo. Daar is intussen verneem dat daar moontlik nog ʼn renoster in die reservaat doodgeskiet is en ʼn verdere drie gewond is. Naidoo sê hulle ondersoek die bewerings. Hy kon ook nie berigte dat twee Mosambiekers gesoek word in verband met die stropery, bevestig nie. Die Atherstone natuurreservaat is ‘n gesamentlike onderneming van die departemente van omgewingsake en toerisme in Limpopo, sowel as private eienaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.