Reuse beloning vir inligting oor moord op dogter

Inge Lotz

Die pa van die vermoorde Maties-student, Inge Lotz, het ʼn beloning van R1 miljoen uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van haar moordenaar sal lei.

Rapport berig dat prof. Jan Lotz die beloning presies sewe jaar na die moord op sy dogter uitgeloof het. Inge, die enigste kind van prof. Jan en Juanita Lotz van Bellville, is op 16 Maart 2005 in haar woonstel op Stellenbosch vermoor. Sy was 22 jaar en 10 maande oud en besig met haar meestersgraad in wiskundige statistiek. Haar destydse vriend Fred van der Vyver (29), is drie maande ná haar dood oor die moord in hegtenis geneem, maar hy is ná ’n uitgerekte verhoor in die Kaapse hooggeregshof in 2007 onskuldig bevind. Lotz sê hy het vertroue in die polisie verloor en dat dit tyd is om self iets aan die saak te doen. “Êrens moet daar iemand wees wat oor ’n stukkie inligting het wat die legkaart in posisie kan laat val. Hiervoor is ek bereid om R1 miljoen te betaal.” Lotz sê daar is talle vrae oor die ondersoek en daaropvolgende hofsaak wat hom grief. “Ek is op soek na die handdoek wat die moordenaar gebruik het om Inge se bloed op te vee en die badkamervloer skoon te maak. Dan soek ek na ’n tydskrif wat deur die moordenaar op haar skoot oopgelaat is by ’n artikel wat handel oor iemand in haar vriendekring. Die bewysstukke moet van die moordenaar se genetiese materiaal daarop hê. Ek is bereid om dit op eie koste na ’n laboratorium in Amerika te stuur. Al antwoord wat ek van die polisie kry, is dat hulle nie weet wat van die bewysstukke geword het nadat dit uit die strafregter se kantoor verwyder is nie.”

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.