RGB laat vaar van die klagtes teen Basson

Die biologiese oorlogskenner, Wouter Basson, tydens die Raad op Gesondheidsberoepe se verhoor wat Maandag, 26 September hervat is. Foto:SAPA

Die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) het Maandag besluit om van die aanklagtes teen die biologiese oorlogskenner, Wouter Basson, terug te trek.

Basson se verhoor is Maandag na byna drie jaar hervat. Hy staar ses aanklagte van onetiese of onbehoorlike gedrag in die gesig. Die eerste aanklagte wat teruggetrek is hou verband met Basson se aanvaarding destyds van ‘n aanstelling deur die Geneesheer-Generaal as projek-offisier van chemiese en biologiese oorlogsnavorsing. Die tweede klag is dat Basson destyds betrokke was by die gebruik van geriewe waar chemiese middels gebruik is. Die ander aanklagte teen Basson hou onder meer verband met toetse wat destyds op lede van die weermag se spesiale en taakmagte gedoen is. Daar is onder meer kalmeermiddels soos Mandrax, Ecstasy en traangas gebruik in die toetse. Basson word ook daarvan aangekla dat hy onprofessioneel opgetree het deur sianiedkapsules aan die spesiale magte te verskaf om as selfmoordmiddel te dien

Die aanklagte is in 2007 teen Basson aanhangig gemaak. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het verlede jaar ʼn aansoek deur Basson om die klagte ter syde te stel van die hand gewys. Indien Basson skuldig bevind word kan hy ʼn boete opgelê word of selfs van die register geskrap word. Basson is in 2002 vrygespreek op aanklagte van apartheidsmisdade. Hy is deesdae ʼn praktiserende kardioloog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.