Rioolpypbaba en sy ma herenig

Die pasgebore babaseuntjie wat vroeër vandeesweek uit ʼn rioolpyp in China gered is, is met sy ma herenig.

Fox News het Donderdag berig plaaslike owerhede het besluit om die seuntjie in die sorg van sy ongetroude ma, en ʼn man wat vermoedelik die pa is, te plaas. Volgens ʼn plaaslike polisiebeampte was die voorval ʼn ongeluk en het hulle besluit om nie die ma te vervolg nie.

Maroela Media het Dinsdag berig nooddienswerkers van in die Zhejiang-provinsie moes langer as ʼn uur spook om die pasgebore babaseuntjie te red wat in ʼn L-vorm-rioolpyp vasgesit het.

Die baba, wie se naelstring steeds aan hom vas was, het Saterdag glo deur ʼn hurktoilet in die rioolpyp beland. Die 22-jarige ma het glo aan die polisie gesê sy het swanger geraak ná ʼn kort verhouding. Sy het haar swangerskap van haar familie weerhou en het Saterdag in die geheim in ʼn huurkamer se badkamer gekraam. Sy beweer die babatjie het per ongeluk uitgeglip toe sy op die hurktoilet was. Sy het daarna alarm gemaak, maar nie erken dat die babatjie hare was nie, omdat sy te bang was. Die polisie het besluit dat sy nie van enigiets aangekla gaan word nie, aangesien dit ʼn ongeluk was en hulle verstaan dat sy bang was. Hulle sê sy het geleidelik van besluit verander en het uiteindelik die waarheid vertel.

Die polisie het nie die name van die ma en die man wat saam met haar was bekend gemaak nie.

Klik hier om ʼn video van die reddingspoging te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.