Rioolwater beland in Milnerton-strandmeer in Kaapstad

Milnerton-strandmeer Foto: www.outdoorphoto.co.za

Milnerton-strandmeer Foto: www.outdoorphoto.co.za

ʼn Pyp wat ineengestort het, het veroorsaak dat riool in die Milnerton-strandmeer inspoel, het die stad Kaapstad Dinsdag gesê.

“Die stad se departement van water en sanitasie werk die afgelope paar dae onophoudelik om die rioolpyp, wat riool na die Koeberg-pompstasie afvoer, te herstel,” het Ernest Sonnenberg, woordvoerder van die burgemeesterskomitee, gesê.

“ʼn Kontrakteur wat deur die stad aangestel is, het sewe weke gelede met die herstel en konstruksie van ʼn tydelike pompstasie begin om die infrastruktuur op te gradeer, om die risiko van oorstromings te verminder,” het hy gesê. Die stormwaterkanaal het Donderdag egter tydens konstruksie van die laaste gedeelte van die nuwe pyplyn, ná ʼn storm oorstroom. “Dit het veroorsaak dat sand in die pyp en die Koeberg-pompstasie ingespoel het. Die stasie kon nie op volle kapasiteit pomp nie, en daar was oorstromings by die pompstasie gedurende spitstye.”

Die stormwaterkanaal en gebiede waar die oorstromings plaasgevind het, word met ensieme behandel om die gehalte van die water te verbeter en om die skadelike gevolge vir die omgewing en die inwoners te beperk. “Ons sal hiermee voortgaan totdat die watergehalte verbeter. ʼn Aantal maatreëls is in plek gestel om die gevolge van die oorstroming te minimaliseer.”

Hy sê alle ontspanningsaktiwiteite in die betrokke gebiede word verbied tot verdere kennisgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.