Rivonia-uitspraak ‘n oorwinning vir alle oud-model C-skole

Laerskool Rivonia Foto: TimesLive

Laerskool Rivonia het Vrydag gesê sy sege in die hoogste hof van appèl sal ‘n rimpeleffek in elke voormalige model C-skool in Suid-Afrika hê.

Die hof in Bloemfontein het bevind die departement van onderwys in Gauteng het onregmatig opgetree deur die skool te dwing om ‘n graad 1-leerling verlede jaar in te neem, berig EWN. Die skool het aangevoer sy vermoë om gehalte onderrig te bied word bedreig, terwyl die departement aangevoer het hy het ‘n verpligting om elke kind in die provinsie in ‘n skool te plaas.

Die departement het gesê hy sal op die uitspraak reageer nadat hy dit bestudeer het.

Die vyf regters van die hoogste hof van appèl het dit baie duidelik gestel dat publieke skole die finale sê moet hê in hoeveel leerlinge hulle kan toelaat. Die hof het die optrede van die departement afgekeur en het beveel dat die departement beide partye se regskoste moet dek.

“Dit is nie net ‘n oorwinning vir Rivonia nie, maar vir elke voormalige model C-skool in die land,” het Paul Lategan, prokureur vir Laerskool Rivonia, gesê. Hy sê hulle is verheug dat die hof besef het dit is glad nie ‘n raskwessie nie en dat dit by enige skool in die land kon gebeur het.

Die departement van onderwys kan moontlik nou die saak na die konstitusionele hof verwys.

Die uitspraak kan ook lei tot die onttrekking van aanklagte teen die skoolhoof Carol Drysdale. Lategan sê sy regspan sal Maandag ‘n versoek aan die departement rig om alle aanklagte teen Drysdale te onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.