Die busmaatskappy SA Roadlink kan dalk gelikwideer word as hulle nie ʼn multimiljoenrandse lening aan FirstRand-bank terugbetaal nie.
Die maatskappy skuld die bank nagenoeg R6 miljoen en kan reeds teen Dinsdag gelikwideer word, het The New Age Vrydag berig.
FirstRand het reeds ʼn aansoek vir likwidasie by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien en voer aan die maatskappy is in “finansiële knyp en nie in staat om sy skuld te betaal nie”.
Volgens die koerant het Roadlink in 2011 vyf busse, elk teen R1,08 miljoen, aangeskaf. Die maatskappy skuld glo ook geld aan ʼn busvervaardigingmaatskappy, Scania SA.
– Sapa