Rolene Botha skuldig aan moord

Rolene Botha wat haar man in 2010 met haar kaal hande aangerand het, is Donderdag skuldig bevind aan moord.

Beeld berig Rachel Elizabeth (Rolene) Botha (55) het haar man, Johan Botha, op 5 November 2010 in ʼn motorfietswinkel, Perfect Bikes, in Gezina in Pretoria, aangerand. Sy het glo geskree: “Vrek, jou p***!” en sy kop herhaaldelik op die betonvloer gestamp.

Luidens die nadoodse ondersoek het Johan verskeie kopbeserings, gebreekte ribbes en erge kneusing opgedoen. Drie ooggetuies het aan die streekshof in Pretoria gesê dat Rolene dié dag by die winkel opgedaag het en daarop aangedring het om haar man te sien.

Die winkel het vroeër aan die Bothas behoort, maar hulle het dit aan Johan se broer en sy vrou, aan wie hulle geld geskuld het, verkoop.’n Argument het ontstaan en Rolene se skoonsuster, Tania Botha, het Johan gebel. Johan het opgedaag en sy vrou aangesê om die perseel te verlaat.

Rolene het haar man begin slaan en stamp en hy het geval. Sy het aangehou om hom aan te rand.

Haar bewering dat die aanranding uit selfverdediging was, is deur landdros Peet Johnson verwerp. Rolene het ook aan die hof gesê dat sy redelik nugter was tydens die voorval, aangesien sy slegs “drie dubbels en water” voor die tyd gehad het.

Die saak is uitgestel vir voorvonnisverslae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.