Sunday Times berig dat Tony Vardas ondersoek word vir sy beweerde betrokkenheid in die koop en verkoop van goedere wat glo deur die Rolex-bende gesteel is. Die Rolex-bende agtervolg glo ryk mense van winkelsentrums en beroof hulle dan van duur horlosies en juweliersware. Die uitvoerende hoof van Discovery, Adrian Gore, die sosiale vlinder en sakevrou, Edith Venter, en Judy Sexwale, vrou van die minister van huisvesting Tokyo Sexwale, is van die bekende slagoffers van die Rolex-bende. Byleveld sê Vardas het hom kort voor die troue gebel en gesê hy wil graag ʼn bydrae maak. Byleveld het in Desember met Elize Smit getrou naby Mookgopong in Limpopo. Byleveld sê Vardas het nie die troue bygewoon nie. Hy sê hy het Vardas lank terug ontmoet toe laasgenoemde ʼn getuie was in ʼn saak wat hy ondersoek het. Byleveld sê Vardas het ʼn juwelier gereël wat sy vrou se vinger gemeet het vir ʼn troupand. Byleveld sê hy was onbewus dat Vardas by enige kriminele aktiwiteite betrokke was en dat hy sou optree indien hy geweet het. Die Valke se woordvoerder, McIntosh Polela, het bevestig dat Vardas ondersoek word vir sy beweerde betrokkenheid by die Rolex-bende. Die hoof van dié berugte bende, Kelvin Ludidi, is intussen Donderdag deur die polisie in Midrand doodgeskiet.
Lees meer hier.