Romanz-sanggroep se paaie skei

romanzDie platemaatskappy wat die gewilde sanggroep Romanz bestuur, het bevestig dat die groep se paaie gaan skei.

“Romanz, Suid-Afrika se gunstelingmannekwartet, het op 27 Februarie hulle laaste optrede as groep uitvoer,” het Tania Krugel, die woordvoerder van Select en Sony Musiek, in ʼn verklaring gesê.

Die lede, André, Adam, Burgerd en Christopher het gesê dit was ʼn positiewe, eensgesinde en weldeurdagte besluit tussen jarelange vriende. Hulle betree nou elkeen die begin van ʼn goeie, opwindende nuwe fase.

“Ons weet die uittrede van Romanz is vir baie ‘n verrassing  en dat die vermoede ook kan ontstaan dat dit een of ander skandaal of negatiewe element was wat tot die besluit gelei het, maar dis eenvoudig nie so nie,” het André gesê. “Ek het onlangs probleme met my ore begin ondervind en dokters het my aangeraai om vir drie maande lank nie te sing nie. Die ander ouens tree dus nou sonder my op.” André het die laaste optrede gemis.

Die groep se laaste optrede het Donderdagaand in Lichtenburg plaasgevind. Die lede se primêre fokus verskuif nou na hul solo-loopbane en studies.

Die groep het in 2008 opslae gemaak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en spog met ‘n indrukwekkende CV van ses topverkoperalbums in soveel jaar, wat verskeie goue-, platinum- en dubbelplatinum-albums insluit.

“Romanz het hulself gevestig as ‘n groep van hoogstaande internasionale gehalte en het die verhoog met bekendes soos Andrea Bocelli en Catherine Jenkins gedeel,” het Krugel gesê. “Hulle het ook met groot welslae ‘n album in Engeland bekend gestel. Die groep het boonop by die troue van prins Albert en prinses Charlene van Monaco opgetree en het onlangs voor 7 000 mense opgetree.”

“Dit was ‘n absoluut onvergeetlike en geseënde ses jaar vir Romanz. Ons is ongelooflik dankbaar aan ons Hemelse Vader en elke persoon wat ons ondersteun het… en steeds ondersteun. Elke aanhanger het dit vir ons moontlik maak om ons droom en passie vir musiek uit te leef,” het die groep gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danielle ·

Dis jammer, bly boesemvriende, en baie sterkte met jul solo-loopbane. Julle musiek is en sal altyd pragtig bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.