Romplose LP verban uit binnelandse sake-kantoor

Die plaaslike tradisionele leier in Daantjie, Mpumalanga, het ‘n Demokratiese Alliansie-LP verban uit die kantoor van binnelandse sake omdat sy nie ‘n romp aangehad het nie.

Luidens ‘n berig in die Saturday Star het die parlementêre oorsigkomitee vir binnelandse sake die kantoor besoek en is Annette Lovemore toegang geweier omdat sy nie ‘n romp aangehad het nie.

Lovemore en die voorsitter van die komitee, Maggie Maunye, het gesê dat hulle aan die leier se reël sal voldoen dat ‘n vrou nie enige kantoor in die kompleks mag binnekom tensy sy ‘n romp aanhet nie. “Hy het ‘n grondwetlike reg om sy kultuur te beoefen,” het Lovemore gesê. “Sy regte verhinder my regte nie op enige manier nie.” Lovemore het die besoek as ‘n “nederige herinnering van Suid-Afrika se multi-kultirele samelewing” beskryf. Ronnie Mamoepa, woordvoerder vir binnelandse sake het egter nie saamgestem nie, en gesê dat die voorval grondwetlike voorskrifte en dienslewering ondermyn. “Niemand mag verbied word om op grond van hul kleredrag staatskantore te besoek nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.