Rondloper “leeu” toe eintlik hiënas

Die bestuur van Ezemvelo KZN Wildlife het Woensdag gesê daar is nie ʼn leeu op vrye voet in die Ulundi-gebied nie. Hulle sê die roofdier wat Dinsdag deur ʼn motoris gewaar is, was ʼn hiëna, wat ʼn kleiner bedreiging vir mense inhou.

Die drama het Dinsdag begin toe Simon Thebe omstreeks 02:00 glo ʼn leeu gewaar het wat langs die King Dinizulu-snelweg hardloop, tussen Intibane Lodge en Ophathe Wildreservaat, het Musa Mntambo, woordvoerder vir Ezemvelo, gesê. Thebe sê sy vrou, wat saam met hom was, het ʼn “baie groot kat” gesien. Hy sê die dier het baie vinnig gehardloop. Die paartjie was “beangs en geskok” en het weggejaag, verlig om weg te kom, maar was besorg oor die veiligheid van die aantal voetgangers wat hulle vroeër opgemerk het.

Thebe het Ezemvelo-beamptes in kennis gestel en ʼn span is dadelik na die gebied gestuur, maar die dier was nie meer daar nie. ʼn Bewaringsbeampte is toe na die gebied gestuur waar die “leeu” gesien is, en hy het spore gesien. Ezemvelo het vanoggend egter ʼn verklaring uitgereik om te sê dat dit ʼn fout was, en dat beamptes gedink het hulle is op soek na ʼn leeu, aangesien ʼn hiëna en ʼn leeu se voetspore ooreenstem. “Ezemvelo wil graag inwoners in en rondom Ulundi gerus stel ná die vorige berigte van ʼn “leeu” wat in die gebied gewaar is. Ezemvelo het gisteraand ʼn span van Hluhluwe-Imfolozi-park gestuur om die “leeu” op te spoor,” het die verklaring gelui.

Omstreeks 02:00 het twee hiënas hul opwagting gemaak en wou die lokaas eet. “Hulle het egter ongelukkig in die bos verdwyn toe hulle agtergekom het dat hulle na die aas gelok word. Hiënas sal onder normale omstandighede nie mense aanval nie, aangesien hulle skaam diere is.” Bokke is makliker prooi vir hiënas en die publiek word versoek om Ezemvelo in kennis te stel indien hulle die hiënas gewaar. “Die span sal nie rus totdat die hiënas gevang is nie,” het Mntambo gesê. Dit is glo nie die eerste keer wat ʼn leeu in die gebied ontsnap nie. “Een leeu het uit Hluhluwe-Imfolozi-park ontsnap en dit het drie maande geduur voordat ons hom weer opgespoor het. Die tweede leeu wat uit Ulundi ontsnap het, is uiteindelik by Nkandla opgespoor,” het hy gesê.

Mntambo sê mense wat die hiënas gewaar kan die bewaringsbeampte van Ezemvelo Wildlife, Jabulani Biyela, by 082 708 8860 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.