Die Suid-Afrikaans ontwerpte Rooivalk-aanvalshelikopter is uiteindelik, ná R8 miljard en drie dekades van ontwikkeling, operasioneel ontplooi, berig defenceWeb.
Drie Rooivalk-helikopters van 16 Eskader by Bloemspruit-lugmagbasis naby Bloemfontein, is verlede week na die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) ontplooi, berig defenceWeb verder. Hulle vorm deel van die Verenigde Nasies-sending se lugvaarteenheid in die DRK. Soldate van Suid-Afrika, Tanzanië en Malawi is ontbied om die verskeie rebellegroepe in die ooste van die DRK, insluitend die M23-rebelle, onder beheer te bring.
ʼn Anonieme bron het aan defenceWeb gesê die helikopters het Vrydag veilig geland en het Maandag toestemming ontvang om operasioneel op te tree. Klik hier om meer te lees wat die Rooivalke vermag het.
Die Rooivalk-projek het in 1984 met sy ontwerpfase begin en het in April 1990 sy eerste vlug onderneem. Die ontwikkeling- en vervaardigingsprogram is eers laat in 2012 afgehandel.