Rooivleis vanjaar effe vinniger as inflasie op

t-bone steakDie Rooivleis Produsente-organisasie, RPO, verwag dat die produsenteprys van rooivleis vanjaar matig sal verhoog. Dié styging behoort effens bokant die inflasiekoers te wees.

Die RPO sê in ‘n verklaring die rooivleisbedryf word deur vryemarkbeginsels gedikteer, dus word pryse deur vraag en aanbod bepaal. Aan die aanbod-kant is Suid-Afrika ‘n netto-invoerder van bees- en skaapvleis, sowel as lewendige skape, bokke, beeste en speenkalwers.

Tien persent van die plaaslike beskikbare beesvleis word ingevoer en 24% van plaaslike beskikbare skaapvleis word ingevoer. Verder word daar jaarliks ongeveer 190 000 speenkalwers en 200 000 lewendige bokke van Namibië ingevoer. Die invoere van bees- en skaapvleis is ook hoofsaaklik van Namibië en Botswana afkomstig, met ‘n beperkte hoeveelheid wat van oorsee ingevoer word.

Suid-Afrika en sy buurlande het in 2013 ‘n ernstige droogte ondervind, wat selfs met die droogte van 1933 vergelyk word. Dit het nie net tot noodslagtings gelei nie, maar van die buurlande het ook eensydige handelsreëlings getref om die oorvoorsiening in Suid-Afrika te bemark. Verder het die droogtetoestand tot wydverspreide vrektes van vee in die opkomende gebiede gelei. Die feit dat daar meer vroulike diere as normaalweg geslag is, is ‘n aanduiding dat boere in hul aanteelkuddes ingeslag het.

Redelike reëns het tot gevolg dat boere tans in ‘n kuddeboufase inbeweeg het. Dit geld ook vir produsente in die buurlande. Ernstige droogtetoestande heers steeds in die sentrale en noordwestelike dele van die land, wat die kuddeboufase ernstig kan benadeel. Die invoer van rooivleis van oorsese lande sal teen ‘n wisselkoers van R11 teenoor ‘n Amerikaanse dollar ook redelik duur wees. Dit kan die aanbod van rooivleis verder beperk.

Indien die aanbod van rooivleis daal en pryse styg, beweeg verbruikers dikwels na substituut proteïenprodukte, waarvan hoendervleis die belangrikste is.  Die invoertarief wat onlangs aan die pluimveebedryf toegestaan is, sal egter daartoe lei dat hoendervleispryse ook styg. Dit kan vererger word deur die nuwe regulering van pekelvlakke in pluimveevleis, wat in die pyplyn is. Verder beweeg die mielieprys tans op vlakke van R3 000 per ton, wat verdere opwaartse druk op die pryse van hoender- en varkvleis plaas. Die verbruiker gaan dus nie veel beweegruimte hê nie.

Daar is dus opwaartse druk op produsentepryse, maar die koopkrag van die verbruiker sal bepaal wat in die mark gebeur. Ons weet dat die verbruiker se koopkrag ernstig onder druk is weens verskeie faktore wat  hoër brandstofpryse en ‘n laer groeikoers insluit. Tesame met ‘n swak wisselkoers en uitgebreide stakings, plaas dit ernstige beperkinge op uitermatige verhogings van rooivleispryse.

Die RPO verwag dus in 2014 matige verhogings in die produsenteprys van rooivleis, wat effens bokant die inflasiekoers kan wees. Die hoë mielieprys sal ook druk plaas op groot verhogings in speenkalfpryse, ondanks die feit dat die aanbod van speenkalwers waarskynlik laer sal wees.

Indien die droogte voortduur in dele van die land kan die scenario egter drasties verander.

Dit is egter so dat rooivleispryse in 2014 relatief tot ander proteïenbronne uiters goeie waarde vir die verbruiker sal bied.

Die RPO wil verbruikers aanmoedig om:

  • Pryse te vergelyk
  • Grootmaataankope te oorweeg aangesien dit koste effektief is
  • Suid-Afrikaanse Rooivleis te koop

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.