Rotherham-kaper blaas soene in hof

Die man wat tereg staan op ‘n aanklagte van poging tot moord op Zina Rotherham, die vrou van die Jacaranda FM-omroeper, Paul Rotherham, se saak is Dinsdag in die Wynberg-landdroshof uitgestel.

Die saak is tot 16 Augustus uitgestel, aangesien die man se regshulp glo nie gereed was nie.

Zina is op 27 Junie twee keer in haar voertuig geskiet kort nadat sy ʼn vriend, die omroeper Kieno Kammies, by die Marlboro Gautrein-stasie in Sandton afgelaai het. Die voorval het naby die stasie in Alexandra plaasgevind. Sy is in haar hand en maag geskiet. Sy is vier dae later uit die Sunninghill-hospitaal ontslaan. ʼn Identikit van die man, wat Zina saam die polisie opgestel het, is kort na die voorval versprei en die man is aangekeer.

Vriende, familie en ondersteuners het Dinsdagoggend by die hof saamgedrom en betoog dat die regering die doodstraf moet terugbring.

Paul het kort daarna op sy Facebook-blad geskryf: “Vandag se uitspraak is ver van ideaal, maar was soort van te wagte. Ons sal die 16de terug wees in die hof en ons sal aanhou om ons stemme dik te maak, al word die saak vir maande of jare uitgestel. Die barbaar behoort agter tralies. Om dinge erger te maak het die man arrogant voorgekom, sonder om enige vorm van berou te toon. Ek kan hom beskryf as iemand wat sy dade gevier het, in plaas daarvan om jammer daaroor te wees. Hy het geglimlag en soentjies vir die mense in die hof geblaas. Misdadigers is nie meer bang vir die land se regstelsel nie en solank dit só aangaan, gaan ons aanhou slagoffers van misdaad bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.