Rottweiler wat 2-jarige byt se eienaar word aangekla

ʼn Veearts in Kaapstad het ʼn formele klag by die DBV ingedien teen die eienaar wie se Rottweiler onlangs ʼn tweejarige op Clifton se strand gebyt het, het die Saturday Star berig.

André Visser, woordvoerder vir ER24 het gesê die dogtertjie is Woensdag op haar linkerkuit gebyt. Die dogtertjie moes dieselfde dag nog opereer word en is Donderdag uit die hospitaal ontslaan, het die Pretoria News Vrydag berig. Dr. David Grant, ʼn veearts van Rondebosch, het gesê hy het verlede jaar in Junie ʼn formele klag oor ʼn afsonderlike voorval by die DBV teen die eienaar van die Rottweiler, ene James Lech, ingedien.

Lech is blykbaar ook deur diereregteorganisasies op die swart lys geplaas ná ʼn klag glo teen hom ingedien is. Grant sê hy is ontbied deur ʼn kliënt wat sy hond moes verdoof vir ʼn reis na Johannesburg, en daar het hy vir Lech ontmoet. Luidens die Saturday Star was die hond wat Grant daar gesien het, styf vasgebind met ʼn nylontou, kon hy byna nie beweeg nie en was hy glo baie bang. Grant het glo sy misnoeë uitgespreek oor die manier waarop die dier behandel word, maar Lech het glo gevoel sulke behandeling is aanvaarbaar.

Grant het glo Lech en sy kliënt versoek om die perseel te verlaat nadat hy die hond verdoof het. Hy het ʼn brief aan die kliënt gestuur en gevra om nie weer sy praktyk te besoek nie en het voorts die voorval die volgende dag by die DBV aangemeld.

Lech het aangedui dat hy binne sewe dae sy kommentaar in ʼn verklaring sal uitreik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.