Rower doodgeskiet, twee vas

crime-scene-tape-320x1912‘n Man is doodgeskiet en twee in hegtenis geneem in Alexandra, Johannesburg nadat hulle glo ‘n huis in Helderkruin in Roodepoort beroof het.

Kapt. Doniah Mothutsane, woordvoerder van die polisie, sê nadat die drie mans die huis beroof het, het hulle gevlug in ‘n motor met ‘n opsporingstelsel in. Die polisie het die vermeende rowers nagespoor tot in Londonweg in Alexandra. Die mans, tussen die ouderdomme van 30 en 32, het gevlug toe hulle die polisie gesien het. Hulle het later uit die motor gespring en verder te voet gevlug. Een van die vermeende rowers het in ‘n huis ingehardloop en daar weggekruip. ‘n Skietgeveg het tussen die vermeende rower en die polisie uitgebreek nadat hulle hom gevind het. Die man is noodlottig gewond. Die twee ander verdagtes is kort hierna in hegtenis geneem. “Twee skootrekenaars, ‘n tabletrekenaar, ‘n Blackberry-selfoon, ‘n kamera, ‘n koffiemasjien, eetgerei, ‘n handsak en ‘n televisie is in die gesteelde motor gevind,” sê Mothutsane. Sy sê daar is ook op ‘n 9mm-pistool en ‘n speelgoedgeweer beslag gelê. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) sal die voorval ondersoek. Die twee verdagtes sal binnekort in die Roodepoort-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, huisroof en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.