Rower-kolonel gee homself oor

tronkhande1-320x191Die weermagkolonel wat 18 jaar gelede ’n gewapende rooftog by ’n polisiekantoor in die Oos-Kaap uitgevoer en vir langer as ʼn week glo die polisie probeer ontduik het nadat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik is, het homself oorgegee.

“Kol. Nceba Patrick Bobela het hom Dinsdagmiddag by die weermag se hoofkwartiere in Pretoria oorgegee, waarna hy na die weermagpolisie geneem is,” het brig.genl. Xolani Mabanga Woensdag gesê. “Die weermagpolisie het op sy beurt met die departement van korrektiewe dienste in verbinding getree.”

“Die departement van korrektiewe dienste in Pretoria het aangedui dat Bobelo sy tronkstraf in die Oos-Kaap gaan uitdien en hulle bespreek tans die opsies om hom oor te plaas.”

Mabanga het gesê daar is geen aanduiding dat Babelo probeer het om sy inhegtenisname te ontduik nie, of probeer vlug het nie, want hy het homself oorgegee.

Beeld het Dinsdag berig Bobela het van sy huis in Nelspruit, Mpumalanga, verdwyn, voor die polisie hom in hegtenis kon neem. Volgens die berig het Bobela glo probeer om die polisie te ontduik.

In 1995 was hy een van vier verdagtes wat skuldig bevind is aan die rooftog by die Ntabethemba-polisiekantoor in die Oos-Kaap, waartydens twee polisiebeamptes aangeval en verskeie vuurwapens geroof is. Die vier is almal tot 12 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar voorwaardelik opgeskort is.

Een van die vier beskuldigdes was in 2001 suksesvol met sy appèl. Bobelo en die ander twee moes dadelik hul tronkstraf begin uitdien het, maar Bobela het dit tot dusver ontduik en hy het in die volgende 12 jaar tot die rang van kolonel gevorder.

– SAPA

Lees ook:
Rower-kolonel ontduik steeds die polisie
Rower-kolonel kry uiteindelik tronkstraf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarie van Niekerks ·

Hy het seker hierdie week of wat wat hy vir die gereg weggekruip het, gou lesse by Selebi of Shaik geneem van hoe om ‘n terminale siekte te ontwikkel. Teen die tyd dat hy onder in die Oos-Kaap kom word hy dadelik op medieseparool vrygelaat want die tipe range gaan mos nie tronk toe nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.