Die vermeende rower wat Dinsdagoggend kritiek tydens ʼn rooftog by ‘n juwelierswinkel in Pretoria gewond is, se toestand is stabiel.
Die man is deur die winkeleienaar geskiet kort nadat ʼn groep mans omstreeks 10:00 op die juwelierswinkel in die Elarduspark-winkelsentrum toegeslaan het. Die eienaar het drie gewapende mans gesien wat hul wapens op hom gerig en hom wou beroof het. Hy het dadelik sy pistool, wat aan sy sy was, uitgehaal en twee verdagtes geskiet. Die verdagte is kritiek gewond en moes op die toneel behandel word. Die ander mans het gevlug. Nog ʼn verdagte is later in verband met die roof in hegtenis geneem.
Adjudant-offisier Annabel Middleton, ʼn polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die man te toestand is stabiel. Hy is onder polisiebewaking in die Steve Biko-hospitaal.
Middleton het gesê die mans kan moontlik met ander misdade in die omgewing verbind word. “Dit is nog egter te vroeg om te sê, maar hulle mag dalk verbind word aan voorvalle waar juwelierswinkels by die Wonderpark-winkelsentrum, Mall@Reds en Woodmead-winkelsentrum beroof is,” het sy bygevoeg.
Die Lyttelton-polisiestasie ondersoek die voorval. Die mans gaan waarskynlik van poging tot roof en die besit van ʼn onwettige vuurwapen aangekla word.