Rower sterf ná mislukte rooftog

ʼn Vermeende rower is Sondagmiddag in Kemptonpark buite Benoni doodgeskiet ná ʼn onderonsie met die polisie.

Kaptein Jethro Mtshali, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die voorval het omstreeks 15:00 plaasgevind.

“Twee mans wou ʼn bestuurder van ʼn bakkie van sy besittings en voertuig beroof. Die bakkie was langs die pad geparkeer nadat die voertuig sonder petrol gaan staan het,” het Mtshali gesê.

Die polisie het die slagoffer langs die pad sien staan, voor die voorval plaasgevind het. Hulle het hulp aangebied en petrol by ʼn nabygeleë vulstasie gaan kry. “Toe die polisie terugkeer het hulle die verdagtes op heterdaad betrap waar hulle die man wou beroof,” het Mtshali gesê.

“Die rowers het op die polisie geskiet en die polisievoertuig beskadig. Hulle wou van die toneel vlug waarna een rower in die kop geskiet is. Hy is op die toneel dood. Die ander verdagte het daarin geslaag om weg te kom,” het Mtshali bygevoeg.

Die polisie het beslag gelê op ʼn 9mm-pistool waarvan die reeksnommer afgevyl is.

ʼn Saak van gewapende roof, opsetlike saakbeskadiging en poging tot moord is oopgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.