‘Rowers’ 2 ure ná huisroof vasgetrek

Argieffoto

Ses verdagtes is Donderdag binne twee ure ná ʼn Wes-Kaapse huisroof in hegtenis geneem.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes van Harare in Khayelitsha was besig met patrollie toe hulle ʼn wenk ontvang het oor ʼn huisroof wat omstreeks 12:00 in Makhaza plaasgevind het.

“Hulle het onmiddellik begin soek na ʼn goue Toyota Fortuner waarin ses verdagtes gevlug het ná hulle glo die misdaad gepleeg het,” het Van Wyk gesê.

Volgens Van Wyk het drie van die verdagtes, waarvan twee gewapen was, die huis binnegestorm. “Hulle het ʼn musiekstelsel asook twee paar sokkerstewels gesteel. Hulle het die gesteelde goedere in die Fortuner gelaai, waarin nog drie verdagtes gewag het, en van die toneel gevlug,” het Van Wyk gesê.

Van Wyk het gesê die polisie het omstreeks 13:30 ʼn voertuig gewaar wat met die beskrywing wat hulle ontvang het ooreenstem. “Hulle het die voertuig probeer voorkeer, maar die verdagtes het vinnig weggejaag. Die polisie het hulle blitsig agternagesit,” het Van Wyk gesê.

Die polisie kon daarin slaag om die voertuig in Maccassarweg tot stilstand te dwing. Al die gesteelde goedere is in die voertuig gevind.

Al ses verdagtes, tussen 21 en 45 jaar oud, is in hegtenis geneem en sal van huisroof aangekla word.

Een van die verdagtes is volgens Van Wyk ook gesoek vir motorkaping en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Albei sake dateer terug na 2011.

Die verdagtes sal binnekort in die Khayelitsha-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leahim ·

Ek verstaan nie hoekom word dit uitgesonder nie dit is hulle werk hulle behoort dit elke dag te doen daar is baie operasies gedoen die afgelope maand dan moet ons die dokters ook bedank geen brûe het inmekaar geval nie dan moet ons ook die ingenieurs bedank ens.Die klomp moet hulle werk begin doen sodat die misdaad daal en nie waneer hulle per toeval iemand arresteer verwag om applous te kry nie .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.