‘Rowers’ skiet ma voor tienerdogter dood

Marilize Bosman

Marilize Bosman (39) is in die vroeë oggendure van Vrydag deur inbrekers in haar huis voor haar 15-jarige dogter doodgeskiet. (Foto: Facebook)

Die polisie ondersoek ʼn klag van moord nadat rowers ʼn enkelma van Noordwes voor haar 15-jarige dogter doodgeskiet het.

Volgens kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder, het twee aanvallers Vrydagoggend by die huis van Marilize Bosman op Hartebeesfontein, naby Klerksdorp, ingebreek.

ʼn Glasdeur is stukkend geslaan.

“Die 39-jarige vrou is in haar kamer in die bors geskiet. Sy is op die toneel dood,” sê Botma.

Bosman se minderjarige dogter kon wegkom en het hulp by die bure gaan soek.

Volgens Botma is selfone geroof waarna die verdagtes op die vlug geslaan het.

Maritha Coetzee, plaaslike DA-raadslid, het die voorval ten sterkste veroordeel. Sy sê daar was drie betrokkenes by die misdaad.

“Me. Bosman se 15-jarige dogter het wakker geword toe sy glas hoor breek en kombuis toe gegaan om ʼn mes te gaan haal om haarself te beskerm,” sê Coetzee.

Die dogter het vergeefs agter ʼn drukker probeer wegkruip en die rowers het glo kontant van haar geëis. Volgens Coetzee is die rowers daarna na Bosman se slaapkamer.

“Die dogter het [vir haar ma] geskree om na veiligheid te hardloop. ʼn Skoot is afgevuur, wat haar [Bosman] noodlottig gewond het,” sê Coetzee.

Volgens haar het die dogter nie geweet haar ma is gewond toe sy na die bure gevlug het om hulp te soek nie.

“Sy het ongedeerd daarvan afgekom en is deur haar grootouers ingeneem,” sê Coetzee.

Volgens Coetzee het die rowers hierna nog twee huise in die omgewing geteiken en na bewering lukraak skote afgevuur.

Botma het bevestig niemand is nog in hegtenis geneem nie en dat ʼn klag van moord ondersoek word.

Intussen het Anna Marie Bredenkemp, ʼn vriendin van Bosman, op sosiale media hulde gebring aan Bosman.

“Dit is baie hartseer wat gebeur het,” het Bredenkemp aan Maroela Media gesê.

Op Facebook skryf sy: “Ek het nie woorde om te beskryf hoeveel jy gemis gaan word nie. Ons het nie baie gesels nie, maar kom al so ʼn lang pad saam. Soos ek en enigeen wat jou goed ken, weet ons jy het baklei tot die einde.

“Rus sag by Jesus se voete. Jy was regtig ʼn besonderse mooi en pragtige mens. Sterkte vir al jou geliefdes in die moeilike tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jacobus ·

Die terroristiese ANC bende en sy soldate hard aan die werk. Geen verskil as wat hamas terroriste in Israel gedoen het.

Nicky ·

ANC EFF GESPUIS, wanneer tree ons hulle aan na volgende jaar se verkiesing wat nie die resultate wil aanvaar nie

Andre ·

…die A en C se versuim om misdaad aan te spreek, gaan nog baie onskuldige lewens eis.
Onse Julius lag seker ook lekker!

JohanR ·

‘n klag van moord!!!!! Die Ma is dood en ‘n 15 jarige dogter is wees, en sonder ‘n Ma. Wat anders kan dit wees as moord!

Karoo ·

Maroela, kan julle nie asb vir ons goeie nuus gaan soek nie. Alles is net dieselfde. RIP en sterkte aan die jong dogter.

Nicky ·

Goeie wit, swart, bruin, Indier mense moet volgende jaar saamstaan en die land terug vat

Papsak ·

Hartseer vir daai kind ons moet hierdie klomp gemors uit kry regtig flip maak my woedend regtig ons moor hulle nie so uit nie wat nou ?????????

Leona ·

RIV mooi dame!. Sterkte aan haar dogter en familie. Sy is nie ongedeerd nie, en ek bid vir haar dat sy krag sal kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.