Rowers slaan weer op PTA-juwelier toe

Die polisie op die toneel by die Grove-winkelsentrum. Foto: @AngeloZ/Twitter

ʼn Vermeende rower is Woensdag tydens ʼn juwelierswinkelrooftog by nog ʼn gewilde winkelsentrum, die Grove, in die ooste van Pretoria geskiet en gewond. Dit volg in skaars ʼn week nadat ʼn groep mans ʼn juwelierwinkel in die Menlyn Park-winkelsentrum beroof het.

Volgens kapt. Jan Sepato, ʼn polisiewoordvoerder, het ʼn poging tot roof omstreeks 11:45 by Francois Juweliers plaasgevind.

“Drie gewapende mans het die winkel binnegestorm en op geld en juwele aangedring,” het Sepato aan Maroela Media gesê. Die eienaar van die winkel, Francois Du Toit, was in sy kantoor en het die verdagtes op kringtelevisiebeeldmateriaal gesien. Hy het uit sy kantoor gestorm waarna die rowers op hom losgebrand het. Du Toit het sy vuurwapen uitgeruk en teruggeskiet, waartydens hy glo ʼn verdagte in die rug geskiet het.

Die verdagte het op die grond geval en aangehou om op Du Toit te skiet. Twee verdagtes het glo buite die sentrum vir hul drie makkers gewag. Al vyf die verdagtes het daarin geslaag om te ontsnap. Niks is tydens die voorval gesteel nie.

Maroela Media het verlede Dinsdag berig ʼn groep van agt gewapende mans het die NWJ-juwelierswinkel in die gewilde Menlyn Park-winkelsentrum in die ooste van Pretoria beroof. ʼn Pensioenaris is tydens die voorval gewond. Lees meer hier. Dit is nog nie in hierdie stadium bekend of die twee rooftogte met mekaar verbind kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

mina ·

hulle het mos die gewonde laat hy praat wie sy maatjies is die wapens wat hulle gebruik het seker ook nie lisensies nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.