‘Rowers’ tart familie glo ná hulle bejaarde vermoor

Antoinette (Nettie) Botha (74) is Woensdag in haar huis in Roseden, Boksburg, aangeval en vermoor.

Botha se selfoon is in die voorval gesteel. “Die polisie is tans besig om die ligging van die selfoon op te spoor,” het lt. Coetzer, woordvoerder van Boksburg-Noord-polisiestasie gesê. Die polisie kan nog nie bevestig of enigiets anders in die voorval gesteel is nie en die motief vir die moord is nog onbekend. “Ons ondersoek ʼn saak van huisroof en moord,” het Coetzer bygevoeg.

Die familie het aan die polisie gesê dat Botha voorheen huurders gehad het wat ongeveer drie weke gelede vermoedelik by haar huis ingebreek het. Volgens Coetzer moet die polisie egter eers vingerafdrukke neem om te bepaal of die huurders beskuldig kan word vir dié moord. “Foto’s en vingerafdrukke in dié saak gaan ʼn baie belangrike rol speel,” het Coetzer gesê.

Familielede van Botha het ook aan die polisie genoem dat die huurders nog sleutels van hekke en deure het. “Die vermeende rowers het oor die muur gespring, die voordeur oopgebreek en die vrou se kamerdeur oopgebreek. Daar is tans dus nog nie bewyse dat sleutels in die voorval gebruik is nie,” het Coetzer gesê.

Botha is vermoedelik met ʼn kussing versmoor en met ʼn sykous verwurg. Die polisie het die kussing en sykous op die toneel gekry. “Een handskoen, ʼn mes en ʼn klein koevoet is buite die perseel opgespoor. Die polisie kan nog nie bevestig of dié voorwerpe in die voorval gebruik is nie,” sê Coetzer. ʼn Nadoodse ondersoek sal bepaal watter beserings Botha verder tydens die aanval opgedoen het.

Volgens Marishca du Plessis, ʼn familielid, het die familie glo na die tyd die selfoon geskakel en die persoon wat die selfoon geantwoord het, het kliphard gelag.

ʼn Buurvrou in Botha se kompleks het gesê die huurders het haar [Botha] glo vroeër getart en op haar dak gespring en uitgejou. Die polisie kon dit egter nie bevestig nie.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linda Naude ·

My moeder was n inwoner vir 50jaar in haar huis in Boksburg. Groot Christen n lid aan die Ou Apostoliese Kerk van Afrika. n Hart van goud gehad, liefde uitgestraal teenoor almal, so onskuldig. Ons harte is bitter seer oor die gruweldaad en bid dat hul gevang sal word. Ons weet ons mammie is veilig by die Here. Ons sal haar baie mis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.