Rowers val fietsryers aan, verkrag vrou

Argieffoto

ʼn Vrou is Donderdagmiddag in Kempton Park verkrag en saam met haar broer beroof toe hulle gaan fietsry het.

Die man (31) en sy suster (26) het omstreeks 16:30 in die mielielande langs die R21-snelweg en die Benoni-afrit fietsgery toe drie gewapende mans hulle gestop en van onder meer hul selfone beroof het. Die mans het hulle vasgebind en tot skemer gewag waarna hulle die broer en suster geskei het. Hulle het die vrou om die beurt verkrag. Nadat die aanvallers gevlug het, het die slagoffers die voorval by die Kempton Park-polisiestasie aangemeld.

Kapt. Jethro Ntshali, die woordvoerder van die Kempton Park-polisiestasie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Hy het Vrydag gesê die polisie ondersoek ʼn klagte van verkragting en gewapende roof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

André Snyman van eBlockwatch, ’n nasionale selfoonnetwerk teen misdaad, het aan Maroela Media gesê as die slagoffers by die organisasie geregistreer was, én hulle toestemming gegee het dat hul selfoonseine in noodgevalle opgespoor mag word, kon die organisasie dadelik geweet het waar die rowers hulle tans met die gesteelde selfone bevind.

“As gevolg van selfoonmaatskappy se streng privaatheidsklousules is die probleem nou dat ʼn saak eers by die polisie oopgemaak moet word, waarna die polisie ʼn speurder aanwys. Die speurder moet dan ʼn hofbevel kry om aan die selfoonnetwerk te gee alvorens toestemming verkry kan word om die selfoon se sein op te spoor. Dit vat baie, én kosbare, tyd. Tyd waarin kriminele vinnig vasgetrek kon word,” het Snyman gesê.

Mense wat by die organisasie wil aansluit kan so doen op www.eblockwatch.co.za. “Ons wil ook net beklemtoon dat lede vir ons toestemming moet gee om hul selfone in geval van ʼn noodgeval op te spoor. Dit is maklik om die toestemming te gee, hulle moet slegs op die rooi paniekknoppie op die webwerf klik, en dan ʼn SMS beantwoord.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.