Royal Mail byt nou terug

Brittanje se staatsbeheerde posdiens, Royal Mail, gaan voortaan regsaksie neem teen eienaars van honde wat sy werknemers byt en dit oorweeg om aflewerings by dié huise te staak.

Die Royal Mail het Vrydag gesê sy posafleweraars is tussen Januarie en April vanjaar 3 000 keer aangeval. Die kommunikasiewerkersvakbond, wat 134 000 poswerkers verteenwoordig, het gesê dit is nader aan 5 000 aanvalle.

“Aanvalle deur honde veroorsaak beserings en trauma vir ons werknemers,” het Donald Brydon, voorsitter van Royal Mail, gesê. “Niemand behoort dit te verduur nie en ons personeel het ‘n verhoogde risiko weens die werk wat hulle doen.” Brydon het gesê die posdiens sal “’n sterker benadering neem jeens klante wie se honde posafleweraars aanval,” insluitend dat hulle die moontlikheid sal ondersoek om aflewerings na dié huise op te skort. “Ons verander ons beleid onmiddellik,” het hy bygevoeg.

Dié nuwe standpunt volg ná ‘n onafhanklike ondersoek wat ‘n beroep doen op eienaars van gevaarlike honde om meer veiligheidsbewus te wees. Skotland en Noord-Ierland het reeds nuwe wette ingestel en soortgelyke wetgewing word vir Wallis beplan, maar in Engeland kan regsaksie tans nie geneem word indien ‘n posman op privaat eiendom gebyt word as hy ‘n huis nader nie. “Dit beteken dat die regsaksie beperk is vir posafleweraars, wat elk daagliks honderde privaatadresse besoek,” het Royal Mail gesê.

Royal Mail verwelkom die verslag se versoek vir dringende veranderinge aan die wetgewing oor gevaarlike honde in Engeland en Wallis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.