Mof Myburgh, ʼn voormalige Spingbokstut, is Vrydagmiddag in die ouderdom van 75 dood.
Beeld berig Myburgh het hartprobleme gehad en lewerkanker is ‘n paar dae gelede by hom gediagnoseer. Hy is in die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria dood.
Myburgh het in 18 toetse vir die Springbokke gespeel en 109 keer vir Noord-Transvaal uitgedraf. Hy sal onthou word vir sy bekende uitlating oor sy groot vriend, die Springbokslot, Frik du Preez.
Dit was Myburgh wat ná die eindstryd vir die Curriebeker in 1969 op Loftus Versfeld in Pretoria teen die WP gesê het Du Preez het “gedrop, gescore en geplace”.
Karen Ellis, een van sy twee dogters, het gesê sy sal haar pa onthou vir sy intellek, sy droë humorsin, sy liefde vir opera en sy empatie met mense.
Myburgh word oorleef deur sy vrou, Aneline, nog ’n dogter, Linda Enslin, en drie kleinkinders.