Rugby-moord: Verdagte kry borg; name weerhou

Brett Williams Foto: Facebook

Een van die vyf mans wat glo ‘n rugby-ondersteuner in Durban doodgeslaan het, is Donderdag op R2 000 borg vrygelaat.

Sy vier medebeskuldigdes sal in aanhouding bly tot ‘n formele borgaansoek volgende week, het die Durbanse landdroshof beveel. Landdros Vanitha Armu het ook beveel dat die name en foto’s van die vyf mans nie gepubliseer mag word nie. Die mans word daarvan beskuldig dat hulle Brett Williams (29) verlede maand ná ‘n Super 15-rugbywedstryd doodgeslaan het.

Die vier wat steeds vir hul borgaansoek wag, staar elk ‘n aanklag van moord in die gesig. Al vyf word van crimen injuria en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig, aangekla.

Staatsaanklaer Krishen Shah het aan die hof gesê die staat sal teen Maandag sy posisie oor ‘n borgaansoek kan formuleer. Die vier wat van moord aangekla word, sal by die Durban-Noord-polisiestasie aangehou word. Armu het gesê dat al vyf Maandagoggend by ‘n uitkenningsparade moet aanmeld voordat hulle weer die middag in die hof moet verskyn. Die mans se name sal vermoedelik ná die uitkenningsparade bekendgemaak word.

Paul Jorgensen, prokureur vir die verdediging, het aangevoer dat die name van die beskuldigdes moontlik reeds in die publiek deur sosialenetwerk-kanale beskikbaar is. Die hof was stampvol met media, familielede, en vriende van die vyf mans.

Williams, ‘n voormalige koninklike seesoldaat, het sendings na Afghanistan en Irak oorleef en het ook die kusgebied van Somalië op teen-seerower-sendings patrolleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.