Rugby-moord: Vyf sal hulself glo oorgee

Brett Williams

Vyf mans wat Brett Williams ná ‘n rugbywedstryd buite Durban se Kingspark-stadion doodgeslaan het, sal hulself na verwagting aan die polisie oorgee.

Die Sunday Tribune berig die vyf mans, wie se name nie genoem word nie, word daarvan aangekla dat hulle die voormalige koninklike seesoldaat, die 29-jarige Williams, doodgeslaan en -geskop het. Die voorval het verlede naweek na die Sharks-wedstryd teen die Melbourne Rebels plaasgevind. Luidens die berig sal die vyf hulself Woensdag aan die polisie oorgee.

Ntombikayise Sibhidla-Saphetha, LUR vir sport in KwaZulu-Natal, het die moord veroordeel. “Die departement sal met die stadionbestuur vergader om te verseker dat sulke voorvalle nie weer in die toekoms plaasvind nie. Stadia moet ‘n veilige plek wees waar sportliefhebbers en hul families hulself kan genieg,” het hy gesê. Hy het enige getuies versoek om met die polisie saam te werk.

Kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die motief vir die moord is nog nie bekend nie. Klik hier om meer te lees.

Intussen berig RSG dat nog ‘n slagoffer na vore gekom het. ‘n Student beweer dat hy twee weke gelede deur drie mans by die stadion aangerand is nadat die Sharks teen die Brumbies verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.