Rugbyblog: 75 jaar later: Bulle teenoor Cheetahs

Naas Botha uit die boek 74 Blou Bul Legendes

Hierdie keer is dit ʼn Suid-Afrikaanse span wat geskiedenis maak in die agste ronde van die Super 15.

Die Cheetahs wen vir die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie vyf wedstryde na mekaar. Voorwaar ʼn unieke prestasie. Volgende Saterdag, 13 April, speel die Cheetahs op Loftus teen ʼn uitgeruste Bulle-span wat ná ʼn loslootjie weer speel. Gaan dit die sesde een in ʼn ry wees vir die Cheetahs of gaan vesting Loftus hulle segetog stuit?

Dit is ook ʼn besonderse geleentheid want die Bulle (oorspronklik Noord-Transvaal) is Saterdag 75 jaar oud en al die oud-spelers is genooi om die wedstryd sowel as die onthaal daarna, as gaste van die Bloubul-rugbyunie by te woon. (Klik hier vir ‘n boek wat spesiaal vir dié geleentheid uitgebring is.)

Die eerste wedstryd van die toendertydse Noord-Transvaal, as nuutgestigte rugby-unie, was heel toevallig teen die Vrystaat wat op die herdenkingsdag as die Cheetahs teen die Bulle gaan uitdraf. Heel gepas, is dit nie?

Die Cheetahs het ook op Vrydag 5 April hul hoof uitvoerende beampte, Gerda van Solms, aan die dood afgestaan. Die minuut van stilte voor die tyd ter nagedagtenis aan haar het die wedstryd verseker ʼn emosionele kleur gegee.

Die wedstryd was gekenmerk deur die verbete aanslag van beide spanne. Die Cheetahs het hul eerste twee lynstane van die wedstryd verloor en uiteindelik net die helfte van hulle lynstaanballe gewen. Die frustrasie kon duidelik op die gesigte van die Cheetahs se afrigtingspan gesien word.

Daarenteen het die Cheetahs die vaste skrums baie beter hanteer en in die doodsnikke van die wedstryd toe die telling 24-23 in die guns van die Stormers was, het hulle ʼn vaskop gewen (wat in die huidige vorm van die kompetisie iets byna ongehoord is). Hulle het die spel verplaas tot 8 meter binne die halfgebied van die Stormers waar De Allende, senter van die Stormers, ʼn strafskop afgestaan het.

Die druk was groot op Burton Francis, maar ewe koelkop het hy die bal deur die pale gejaag en ʼn welverdiende oorwinning aan die Cheetahs besorg. Welverdiend sou jy vra? Ja, die tweede drie van die Stormers deur Juan de Jong moes eintlik ʼn skrum/strafskop vir die Cheetahs gewees het, maar die skeidsregter sowel as die assistent skeidsregter het die onopsetlike onkantspel van die Stormers nie raakgesien nie. Die kyker by die huis kon dit op die kyk weer egter baie duidelik sien. Die drie is toegeken terwyl dit eintlik ʼn skrum ten gunste van die Cheetahs moes gewees het.

Dalk moet die magte van die televisie-skeidsregter nog uitgebrei word om sulke gevalle aan die skeidsregter op die veld bekend te maak. Nie dat die tegnologie die wedstryd van die kant af moet oorheers nie, maar sou die Stormers gewen het na ʼn duidelike oortreding, sou dit die regverdigheid van die oorwinning bevraagteken het.

Almal wil tog sien dat ʼn span binne die reëls wen, of hoe?

Jammer aan die Stormers maar ek dink die regte span het gewen.

Bygesê, daar was ʼn hele paar beslissings weerskante toe wat vir my ook onverklaarbaar was en ek hou myself nogal op hoogte van die nuutste reëls.

Hoede af vir die Kings wat vriend en vyand verras het met die gelykop “oorwinning” teen die Brumbies op laasgenoemde se tuisveld. Dit was vir my die interessantste drie minute ná die sirene wat ek nóg beleef het.

Hier het die televisie-skeidsregter die besliste neerlaag van die Kings in ʼn gelykop wedstryd verander. Gelukkig was die assistent skeidsregter in hierdie geval meer oplettend as in die Cheetahs se wedstryd en het hy, nadat die sirene vir die einde van die wedstryd reeds twee minute van tevore afgegaan het, aan die skeidsregter gesê dat daar moontlike onwettige spel by die Brumbies was nadat hy ʼn strafskop aan die hulle toegeken het.

Die wedstryd was dus verby en die Brumbies kon net die bal uitskop.

Die televisie skeidsregter het egter besluit dat daar wel ongeoorloofde spel aan die kant van die Brumbies was en het die strafskop omgedraai. Dit het die geleentheid gebied aan die Kings se Cornell du Preez (agsteman) om in die derde minuut, nadat die sirene vir die einde van die wedstryd afgegaan het, die drie langs die regter regoppaal te druk. Die doelskop was bloot roetine vir Dimitri Katrikilis. Die Kings het drie punte teenoor die twee van die Brumbies gekry omdat die Kings vier drieë teenoor die Brumbies se drie drieë gedruk het

Welgedaan aan die Kings! Ek het ook skepties gestaan teenoor julle insluiting in die kompetisie, maar julle het vriend en vyand tot dusver verras. Julle speel volgende Saterdag teen die Rebels in Melbourne en ek hoop dat julle dieselfde spelpeil sal handhaaf want dan is ʼn bonuspunt-oorwinning en ʼn addisionele vyf punte op die log julle voorland.

In ʼn wedstryd van twee helftes het die Sharks, danksy goeie verdediging en die skopskoen van Patric Lambie, die Crusaders se segetog gestuit en gewys dat daar hoop vir die Springbokke teen Nieu-Seeland is later vanjaar.

Die Crusaders het in die eerste helfte die wedstryd oorheers en jy het jouself die vraag afgevra wanneer gaan die damwal breek en die Crusaders met die wedstryd weghardloop.

Wat gedurende halftyd in die Sharks se kleedkamer gesê is, sou beslis nie geskik gewees het vir publikasie nie, maar dit het beslis die regte uitwerking gehad want in die tweede helfte was die Sharks in beheer van die wedstryd.

Die Sharks moet net weet dat ʼn gewonde Stormer-span aanstaande Saterdag vir hulle op Nuweland wag.

Vir die rekord kan gemeld word dat die Hurricanes die Warathas met 41-29 geklop het in ʼn aanskoulike Nieu-Seelandse derby. Die Blues het in die ander Nieu-Seelandse derby die sukkelende Highlanders se tjank met 29 -18 afgetrap. Die Highlanders soek nog tevergeefs na ʼn eerste oorwinning in die huidige reeks. Hulle speel volgende week op hulle tuisveld teen die Brumbies wat na die gelykop wedstryd teen die Kings in ʼn moeilike bui gaan wees.

In die Varsity-beker is die Maties en die Tukkies in ʼn herhaling van verlede jaar se eindstryd met die verskil dat die wedstryd op Maties se tuisveld gespeel word.

Ek dink dat die tuisveld-voordeel en die ondersteuning van die toeskouers die deurslag sal gee en dat die Maties die finaal sal wen.

Rugbygroete tot volgende week

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.