Rugbyblog: Sharks trek ‘n haas uit die hoed

Die naweek het met ’n Nieu-Seelandse derby afgeskop toe die Chiefs en die Hurricanes mekaar op die Chiefs se tuisveld die stryd aangesê het. Die Hurricanes is tans derde op die Nieu-Seelandse konferensie. Hulle het gedink dat vlugflouheid hulle bondgenoot gaan wees in die stryd. Daarvan was daar helaas geen sprake nie.

Die Canes was van meet af aan op die aanval en heel teen die verloop van die spel het die Chiefs ʼn losbal opgepik en Nanai Williams hardloop 60 meter ver vir ʼn drie byna onder die pale. Anscombe wat tans dodelik met die skopvoet is, het geen moeite ondervind om die drie te verdoel nie. Dít, tesame met sy strafskop, het die telling na 7 minute reeds op 10-0 gelaat. Die wedstryd het daarna redelik gelykop verloop met beide spanne wat goed aangeval en verdedig het. Met rustyd was die Chiefs met 10-7 voor.

Die intensiteit van die wedstryd het toegeneem namate die stryd gevorder het. Dié eienskap het tot dusver by die Suid-Afrikaanse spanne ontbreek.

Daar is tans ʼn duidelike verskil tussen die spelgehalte van Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland; met laasgenoemde die toonaangewende spanne in die reeks.

Die Chiefs het uiteindelik ʼn welverdiende oorwinning van 19-7 behaal.

Daarna was dit die Crusaders wat die Kings in hulle eerste oorsese wedstryd aangevat het. Die Kings het moedig probeer, maar die Crusaders het hulle ritme gevind en sal vorentoe moeilik gestuit word.

Die Crusaders het reeds met rustyd met 31-13 voorgeloop en het reeds ʼn bonuspunt vir vier drieë behaal. Daarna het die slagting sistematies en met presisie voortgeduur totdat die Crusaders ʼn paar minute voor die einde verslap het en die Kings ʼn goeie troosprysdrie deur George Whitehead, heelagter, gedruk het.

Dit het die telling op 55 teenoor 20 te staan gebring.

Alhoewel die Kings ʼn rugbyles geleer is, het hulle nooit gaan lê nie.

Vir die Hurricanes gaan volgende naweek beslis nie ʼn makliker wedstryd as die eerste een wees nie.

Die tweede nederlaag het vir die Bulle in Brisbane gewag. Dit is die tweede keer dat hulle oorsee in die tradisionele blou van die Bulle speel en die tweede keer verloor. Die enigste oorwinning was in pienk en as dít die nuwe blou is, moet hulle maar daarmee voortgaan (alhoewel dit my persoonlik grief).

Die spel is gekenmerk deur lusteloosheid. Van beide kante af, maar die Bulle het hulle by uitstek daaraan skuldig gemaak. My vraag is hoekom kan hulle nie vir 60 minute speel soos die laaste vyf minute nie? Tóé was daar lewe in die spel en kon hulle die wedstryd ver gewen het.

Die Reds het met 23-18 geseëvier.

Die Cheetahs het hulle derde oorwinning in ʼn ry op hulle oorsese toer behaal, deur die gedugte Force met 19 punte teenoor 10 op laasgenoemde se tuisveld te wen. Weereens het die samespel van die Cheetahs beïndruk. Die span gee om vir mekaar en hulle speel die bal wyd. Hulle spel is die naaste aan dié van enige Nieu-Seelandse span van al die Suid Afrikaanse spanne.

Reeds het hulle beter gevaar as in enige vorige oorsese toer. Hulle moet nog die room van die SA-spanne aandurf, maar dit kan baie interessant begin word met die Cheetahs as hoofrolspeler.

Die Stormers het die veelgeroemde Brumbies met groot gemak met 35-22 op Nuweland geklop en ook ʼn bonuspunt vir drieë behaal. Ek dink dit is ʼn eerste vir dié seisoen. Die Stormers het weereens gewys dat hulle gedugte verdedigers is, maar daar het briljante aanvallende oomblikke deurgeskemer van wat nog te wagte kan wees.

Met die Crusaders, Cheetahs en die Haaie wat voorlê kan die volgende drie weke nogal bepalend wees vir die Stormers. Ons weet egter dat hulle die vermoë het om vir die uitspeelwedstryde te kwalifiseer.

Die Sharks besluit toe om die haas uit die spreekwoordelike hoed te trek… Na ʼn drieë-droogte spring hulle weg met die intensiteit wat nog in al die vorige wedstryde ontbreek het. ʼn Fees van goeie rugby volg en 10 drieë later stap hulle met 64-7 as oorwinnaars teen die verslae Rebels van die veld af. Soos ʼn sukkelende motor wat vir ʼn groot diens gegaan het, en daarna op al agt silinders gevuur het, is die resultaat dít waarna hulle ondersteuners gesmag het.

Hopelik sal hulle op dié trant kan voortgaan en sal die skares weer terugkeer na die Shark-tenk toe (wat maar aan die leë kant was).

Sondagoggend het die Waratahs ʼn groot agterstand ingehaal om die Blues met 30 punte teenoor 27 te klop.

Rugbygroete tot volgende week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.