Rugbyblog: Uitspeelkandidate kom nou na vore

By die halfpadmerk van die Super 15 begin die uitspeelkandidate stadig maar seker na vore tree.

Die Crusaders en die Stormers sal nou ʼn haas uit die hoed moet pluk as hulle wil saamblaf na die eindrondtes toe.

Gelukkig het die kompetisie reeds gewys op die onvoorspelbaarheid daarvan en daar sal seker nog ʼn paar verrassings wees. Die Bulls het sekerlik hulle beste rugby van die seisoen in die eerste helfte teen die Kings gespeel. Dit was baie na aan volmaakte rugby alhoewel die nat toestande sekerlik blameer kan word vir ʼn paar hanteerfoute.

Die Bulls het vriend en vyand verras met die wyse waarop die spel afgewissel is met briljante taktiese skopwerk en die bal vinnig deur die hande te neem na die spasies op die punte.

Die ander spanne moet gerus kennis neem van die Bulls se oorskakeling na ʼn hoër rat toe. Indien hulle weer vyf punte teen die Waratahs op Fort Loftus kan behaal, is hulle goed op pad na ʼn tuisveld uitspeelwedstryd in die halfeindstryde.

Die 34 -0 bonuspunt oorwinning oor die Kings het almal ʼn bietjie onkant betrap. Dit lyk asof die Bulls nou op alle silinders begin vuur. Die sogenaamde “Killer instinct” ontbreek nog. Toe die Bulls vir die tweede helfte opdraf, het hulle ʼn bietjie laat skiet en die Kings toegelaat om die aanvalswerk te doen. Selfs toe het hulle verdediging die toets deurstaan. Die twee drieë in die laaste vyf minute het hulle oorheersing onderstreep.

Die Argentynse skeidsregter Francisco Pastrano was uit sy diepte uit en in ʼn wedstryd tussen voorlopers sal sy besluitloosheid en swak kommunikasie met die spelers probleme veroorsaak. Dit is goed dat Argentynse skeidsregters blootgestel word aan Superrugby, maar dan moet hy ondersteun word deur top gehalte assistent-skeidsregters.

In teenstelling met die opwindende wedstryd tussen die Bulls en die Kings staan die wedstryd op Kingspark in skrille teenstand. Die hantering van albei spanne was swak en veral die Haaie moet baie bekommerd wees. Die taktiese skopwerk het ook veel te wense oorgelaat. Dit is kommerwekkend as in ag geneem word dat die Springboklosskakel nie aan die verwagting voldoen het nie.

Die Cheetahs het hulle kanse deeglik benut en het twee drieë teen nul teen die voorlopers (in daardie stadium) van die Suid-Afrikaanse konferensie gedruk.
Die verdediging van die spanne was goed, maar die Sharks sal iets moet doen om hulle aanvalle en teenaanvalle dramaties te verbeter.

Die Sharks word ook uitermate hard getref deur ʼn reeks beserings wat hulle beste spelers op die kantlyn hou.

Die Haaie is gewoonlik ʼn span wat goed vertoon in hulle wegwedstryde, maar hulle het twee moeilike teenstanders in die Chiefs en die Reds wat op hulle wag.

Dit was te verwagte dat die Hurricanes die Force gemaklik sou klop, maar hulle kon nie die bonuspunt met ʼn vierde drie behaal nie.

Die Australiese tweestryd tussen die Brumbies en die Reds het ʼn klipharde wedstryd tot gevolg gehad. Die Reds het egter drie drieë teen een gedruk en hulle is beslis om in die halfeindwedstryde te speel.

Die groot verrassing van die naweek was die onverwagse oorwinning van die Waratahs oor die verdedigende kampioen, die Chiefs. Die Chiefs het lusteloos voorgekom en die Waratahs het beslis hulle spelpeil gelig. Die Chiefs het gelyk asof hulle in die tweede helfte die kastaiings uit die vuur wou pluk, maar, en dit het selfs gelyk asof hulle die wedstryd sou wen, ʼn drie deur Uliaga onder die pale het aan die tuisspan ʼn welverdiende oorwinning besorg.

Die wedstryd tussen die Crusaders en die Highlanders was maar saai en soos verwag het die Crusaders gewen, maar nie met die broodnodige bonuspunt nie.

Rugbygroete tot volgende week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.