Rugbyblog: Wat gaan aan dat al die SA-spanne wen?

Die geskiedenis herhaal hom gewoonlik self, maar geskiedenis moet eers gemaak word voordat dit herhaal kan word. Dié naweek is geskiedenis gemaak in die sin dat drie Suid-Afrikaanse spanne agtereenvolgens drie Nieu-Seelandspanne die loef afgesteek het. Al drie wedstryde was so half-en-half onverwagte wenne vir die Suid-Afrikaners.

Nie één kommentator het die Cheetahs ‘n kans teen die Highlanders gegun nie. Die Stormers was ook nie die volslae gunsteling teen die Chiefs nie en die Bulls is geen kans teen die Blues gegee nie. Die resultaat was drie goeie oorwinnings vir die drie Suid-Afrikaanse spanne. Kom ons neem die naweek se wedstryde in oënskou:

Die Super15 skop op Vrydag 8 Maart af met ‘n naelbyt-lekker wedstryd tussen die Crusaders en die Hurricanes. Ryan Trotty van die Crusaders sit die telbord aan die rol met n briljante stukkie individualisme en druk ‘n skitterende drie, wat Dan Carter verdoel, en wat die Crusaders aanvanklik met 7-0 laat voorloop.

Bauden Barrit van die Hurricanes kalf die voorsprong stelselmatig weg met 4 stafskoppe wat die Canes teen halftyd met 12 -7 laat voorloop. Die Crusaders het talle strafskoppe afgestaan en Barrit het dit in punte omskep.

Met die aanvang van die tweede helfte het die Crusaders hul speltempo gelig en drie pragdrieë gedruk wat aan hulle ‘n bonuspunt vir 4 drieë gegee het. Die Hurricanes het getoon dat hulle briljant op die teenaanval is en het die telbord telkens  aan die rol gehou.

Die keerpunt van die wedstryd was ‘n iewat wilde aangee van Dan Carter wat onderskep is deur Atapateu Leioua van die Hurricanes, wat onder die pale gaan druk het. Daarna het hulle soos tiere verdedig om die wedstryd met 29-28 te wen.

Die Crusaders het twee bonuspunte verdien vir die vier drieë en vir die minder-as-7-punte-verloor. Die Hurricanes is weer op koers na verlede Saterdag se nederlaag teen die Reds.

Die volgende wedstryd tussen die twee Australiese spanne was nie so aanskoulik soos dié tussen die Crusaders en die Hurricanes nie. Die Reds het die wedstryd met 23-13 gewen en die Rebels van ‘n bonuspunt weerhou. Dit lyk asof die laaste plek in die Australiese been tussen die Western Force en die Rebels uitgespook gaan word.

Dan volg die vasbeslote Cheetahs teen die Highlanders. Die kommentators is dit eens dat die Cheethas geen kans staan om die wedstryd te wen nie en dat die Highlanders na ‘n loslootjie net te sterk vir die Cheetahs sal wees. Die nege All Blacks in die Highlanders se span het hulle dié stellings laat maak.

Na die powere vertoning van die Cheetahs teen  die Chiefs die vorige naweek is dit ‘n ander Cheetah-span wat vir dié wedstryd opdaag. Doelgerigte aanvalswerk en fanatiese verdediging is die kenmerke van die Cheetahs se wedstrydplan. Elke keer as die Highlanders met ‘n aanval kom is daar ‘n reguitlyn verdedigers wat man vir man die aanvallers meters ver terugdryf. Weg is die skuinshardlopery van die Cheetahs op die aanval en die een bres na die ander word geslaan.

Die Cheetahs loods ‘n blitzkrieg wat die Highlanders teen halftyd verdwaasd laat. Twee drieë deur Sarel Pretorius en een deur Robert Ebersohn, almal verdoel deur Johan Goosen en nog drie strafdoele as toegif, laat die telling teen halftyd op 30-7 in die guns van die Cheethas staan. ‘n Driekuns deur linkervleul Pokey laat die eindtelling iewat beter lyk vir die Highlanders wat die wedstryd met 36 -19 verloor.

Die volgende wedstryd is tussen die Brumbies en die Waratahs. Na ‘n sukkelende begin wen die Brumbies gemaklik met 35-6.

Na ‘n paar ure is dit tyd vir die grote op Nuweland. Sommer vroeg het die Stormers gewys dat hulle lus is vir speel en het Gio Aplon die eerste van sy twee drieë gedruk na ‘n skitterende binne-aangee van Elton Jantjes. Die Chiefs het gewys waarom hulle die kampioenspan is, want hulle het met redelike gemak 4 drieë teen die Stormers gedruk wat bekend is vir hulle ongelooflike verdediging.

Verder was dit Stormers rugby op sy beste. Die bal het die aanvalswerk gedoen en die agressie van die Stormers, met ‘n skitterende Hennie Bekker aan die voorpunt ,was nét te veel vir die kampioene. Die slotte van die WP het byna vir elke bal in die lynstane gekompeteer en het die Chiefs swaar laat kry in dié afdeling van die spel. Die laaste 10 minute van die wedstryd moes die Stormers met alle mag verdedig toe die Chief die een aanval na die ander geloods het.

Die Stormers wen die naelbytstryd uiteindelik met 36-34. Die Chiefs het wel 4 drieë teenoor die drie van die Stormers gedruk, maar die skopskoen van Joe Pietersen was meer aktief  as die van Gareth Anscombe.

‘n Volgepakte stadion in Port Elizabeth het die Sharks ingewag en weereens het die Kings met ‘n prysenswaardige passie gespeel. Hulle het weliswaar met 21 -15 verloor, maar die veelgeroemde Sharks kon nie eenkeer die Kings se doellyn oorsteek nie en moes staatmaak op die skopskoen van Patric Lambie om aan hulle die oorwinning te besorg.

Die Kings gaan nog menige span op Port Elizabeth harde bene laat kou. My negatiwiteit oor die Kings was onvanpas in verlede week se blog, want weereens het hulle met totale oorgawe gespeel. Die groot vraag rondom die Kings is nou die kwessie van diepte, want die seisoen is lank en die eise hoog. Hoed af vir dié Suid-Afrikaanse nuwelinge.

Die naweek se spel is afgerond met ‘n klinkende oorwinning van 28-21 vir die Bulls teen die veelgeroemde Blues.

Die spankeuse van die Blues het die wenkbroue laat lig. Om 10 veranderinge aan te bring aan ‘n span wat op die kruin is, wys op die onderskatting van die Bulls. Die Bulls het egter hulle beste wedstryd van die reeks tot dusver gespeel en die Blues se arrogansie het hulle die wedstryd gekos. Die Blues het die Bulls geheel-en-al onderskat en dit goedgedink om al hulle reserwes kans te gee. Dit het die ritme en die momentum van die Blues aangetas en die Bulls speel toe hulle beste wedstryd van die reeks tot op datum. Ongelukkig het Jano Vermaak die bal verloor in sy poging om die bonuspunt drie te druk, anders was die  Blues selfs sonder n bonuspunt.

Geluk aan die Suid-Afrikaanse spanne . Ons sien uit na volgende week. Die Bulle het die moeilikste wedstryd teen die Crusaders, terwyl die Sharks die Brumbies op Kingspark ontvang.

Die Cheetahs is oppad terug huistoe en gemeet aan verlede Saterdag se spel sal hulle te sterk wees vir die eendimensionele span van die Waratahs.

Rugbygroete .

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.